LUKAS 10:1-20

LUKAS 10:1-20 NLV

Die Here het nou 72 ander dissipels gekies en hulle in pare vooruit gestuur na al die dorpe en plekkies wat Hy wou besoek. Dít was sy instruksies aan hulle: “Die oes is só groot, maar die werkers is so min. Bid tot die Here wat in beheer is van die oes, en vra dat Hy meer werkers in die veld sal stuur. Gaan nou, en onthou dat Ek julle soos lammers tussen wolwe instuur. Moenie enige geld saamvat nie, of ’n reissak of selfs ’n ekstra paar sandale nie. En moenie enigiemand langs die pad groet nie. “Elke keer wanneer julle ’n huis binnegaan, spreek die vredesgroet daaroor uit. As dié wat daar bly, dit waardig is, sal die seën bly; as hulle dit nie is nie, sal die seën na julle toe terugkom. Wanneer julle in ’n dorp aankom, moenie van huis tot huis gaan nie. Bly op een plek, eet en drink wat hulle aan julle voorsit. Moenie huiwer om gasvryheid te aanvaar nie, want dié wat werk, verdien hulle loon. “As ’n dorp julle verwelkom, eet wat ook al aan julle voorgesit word. Genees die siekes wat daar woon, en sê vir hulle: ‘Die koningsheerskappy van God is nou naby julle.’ Maar as ’n dorp weier om julle te ontvang, gaan uit in die strate en sê: ‘Ons vee die stof van julle dorp van ons voete af as ’n openbare aankondiging van julle oordeel. Maar dit moet julle weet: die koningsheerskappy van God is naby!’ Ek verseker julle, selfs die bose Sodom sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as só ’n dorp. “Ellende wag vir julle, Gorasin en Betsaida! Want as die wonders wat Ek in julle gedoen het in die bose Tirus en Sidon gedoen was, sou hulle inwoners lankal in sakke geklee gewees het, met as op hulle koppe as teken van hulle berou. En hulle sou tot inkeer gekom het. Ja, Tirus en Sidon sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as julle. En julle, mense van Kapernaum, sal julle tot die hemel verhoog word? Nee, julle sal afdaal tot in die doderyk.” Toe sê Hy vir die dissipels: “Enigeen wat julle boodskap ontvang, ontvang My ook. En enigeen wat julle verwerp, verwerp My. En enigeen wat My verwerp, verwerp God wat My gestuur het.” Toe die 72 dissipels terugkom, het hulle met vreugde gesê: “Here, selfs die bose geeste gehoorsaam ons wanneer ons u Naam gebruik!” “Ja,” het Hy hulle vertel. “Ek het Satan uit die hemel sien val soos ’n weerligstraal! En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand, en julle kan oor slange en skerpioene loop en hulle vermorsel. Niks sal julle beseer nie. Maar moenie bly wees net omdat bose geeste julle gehoorsaam nie; wees bly omdat julle name opgeteken is as burgers van die hemel.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 10:1-20