“ ‘ Jy mag nie jou broer in jou hart haat nie. Wys jou volksgenoot openhartig tereg. Jy mag nie 'n misstap teen hom bly hou nie. Jy mag nie haatdraend wees en 'n wrok koester teen die kinders van jou volk nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE. “ ‘ My vaste voorskrifte moet julle nakom. Jy mag onder jou diere nie verskillende soorte laat paar nie. Op jou land mag jy nie verskillende soorte saad saai nie. Klere van verskillende soorte materiaal mag jy nie dra nie. “ ‘ Wanneer 'n man by 'n vrou slaap en sy is 'n slavin wat aan 'n ander man toegesê is, maar die vrykooptransaksie is nie afgehandel nie of vryheid is nog nie aan haar toegeken nie, moet daar skadevergoeding wees. Hulle mag nie doodgemaak word nie, want sy was nie vry nie. Die man moet sy •hersteloffer vir die HERE na die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring, 'n ram as hersteloffer. Die priester moet met die ram van die hersteloffer vir hom voor die HERE versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het. Dan sal hy vergewe word vir die sonde wat hy gedoen het. “ ‘Wanneer julle in die land aankom en allerhande vrugtebome plant, moet julle die vrugte daarvan as verbode beskou. Vir drie jaar moet dit vir julle verbode wees; dit mag nie geëet word nie. In die vierde jaar moet al die vrugte daarvan heilige lofoffers vir die HERE wees. In die vyfde jaar mag julle die vrugte daarvan eet om die opbrengs daarvan vir julle steeds meer te maak. Ek is die HERE julle God. “ ‘ Julle mag nie vleis eet met die bloed nog daarin nie. Julle mag nie voorspellings maak uit voortekens nie, en julle mag nie waarsêery beoefen nie. Julle mag nie die hare op julle slape afknip nie. Jy mag nie die kant van jou baard wegsny nie. Julle mag nie snye op julle liggame maak vir 'n afgestorwene nie, en julle mag julle nie tatoeëer nie. Ek is die HERE. “ ‘ Jy mag jou dogter nie onteer deur van haar 'n prostituut te maak nie, sodat hoerery nie in die land posvat en die land vol skanddade word nie. “ ‘ My Sabbatte moet julle hou en vir my heiligdom moet julle ontsag hê. Ek is die HERE. “ ‘ Moet julle nie wend tot waarsêergeeste nie, en by voorvadergeeste moet julle nie hulp soek nie. Dit is net om deur hulle •onrein te word. Ek, die HERE, is julle God. “ ‘ Vir 'n grysaard moet jy opstaan, eerbied betoon aan 'n bejaarde en ontsag hê vir jou God. Ek is die HERE. “ ‘ Wanneer 'n vreemdeling by jou verblyf het in julle land, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat verblyf by julle het, moet vir julle net soos 'n gebore Israeliet by julle wees. Jy moet vir hom lief wees soos vir jouself. Julle was immers self vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God. “ ‘ Julle mag nie onreg pleeg in die regspraak wanneer dit gaan oor lengte, gewig en inhoudsmaat nie. Julle moet 'n onvervalste weegskaal, onvervalste gewigte, 'n onvervalste efa en 'n onvervalste hin hê. Ek is die HERE julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Julle moet al my vaste voorskrifte en al my beslissings nakom; julle moet dit uitvoer. Ek is die HERE.’ ”
Lees Levitikus 19
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Levitikus 19:17-37
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's