LEVITIKUS 19:17-37

LEVITIKUS 19:17-37 NLV

“Moenie haat teen enigeen van jou familielede in jou hart vertroetel nie. Wees reguit en wys jou buurman op sy oortreding sodat jy nie ook skuldig is aan wat hy verkeerd doen nie. “Moenie wraak soek of ’n grief teen iemand koester nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE. “Gehoorsaam al my gebooie. Moenie jou diere kruis met ander soorte diere nie. Moenie twee soorte saad op een land plant nie. Moenie klere dra wat van twee verskillende soorte materiaal gemaak is nie. “Wanneer ’n man seksuele gemeenskap het met sy slavin wat reeds aan iemand anders belowe is, maar die koopsom is nog nie betaal nie, moet die man skadevergoeding betaal. Omdat sy egter nog nie vry was nie, hoef hulle nie doodgemaak te word nie. Die man moet egter ’n ram as skuldoffer vir die HERE bring by die ingang van die tent van ontmoeting. Die priester sal dan versoening vir hom bring in die teenwoordigheid van die HERE met die offerram as skuldoffer en die man sal vergewe word. “Wanneer julle julle in die land gevestig het en vrugtebome plant, mag julle die vrugte daarvan vir drie jaar lank nie oes nie en is die vrugte verbode vir julle. In die vierde jaar moet al die vrugte aan die HERE gewy word as uitdrukking van dank en lof aan Hom. In die vyfde jaar mag julle van die vrugte eet. Op hierdie manier sal die opbrengs van die bome meer word. Ek, die HERE, is julle God. “Moet nooit vleis eet wat nie uitgebloei is nie. Moenie julle ophou met waarsêery of towery nie. “Moenie die heidense gebruik volg en die hare langs julle slape afsny of die kante van julle baarde knip nie. “Moenie snye op julle liggame maak as rougebruik oor dooies nie. Moenie tatoeëermerke op julle vel maak nie, want Ek is die HERE. “Moenie jou dogter onrein maak deur van haar ’n prostituut te maak nie. Die land sal onsedelik word en vol van afskuwelike sondes. “Gehoorsaam my Sabbatdae van rus en bewys eerbied vir my heiligdom, want Ek is die HERE. “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak. Ek, die HERE, is julle God. “Bewys jou eerbied vir God deur op te staan in die teenwoordigheid van oumense en bewys respek vir bejaardes. Ek is die HERE. “Moenie die vreemdelinge wat in jou land bly, uitbuit nie. Hulle moet soos enigiemand anders behandel word en jy moet hulle liefhê soos jouself. Onthou dat julle ook vreemdelinge in Egipte was. Ek, die HERE, is julle God. “Moenie oneerlik wees wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. Julle skale en gewigte moet akkuraat wees. Julle houers waarmee julle droë goed of vloeistowwe meet, moet akkuraat wees. Ek, die HERE, is julle God. Ek het julle uit Egipte gebring. Julle moet al my gebooie en bepalings noukeurig gehoorsaam, want Ek is die HERE.”