Levitikus 13

13
Voorskrifte oor velsiekte
1 Die Here het met Moses en Aäron gepraat: 2“Wanneer iemand 'n swelsel of skurwe plek of ligte vlek op sy vel het wat velsiekte kan word, moet hy na Aäron, die hoëpriester, of na een van sy seuns, die priesters, gebring word. 3Die priester moet dan die aangetaste plek op die vel ondersoek: As die hare op die aangetaste plek wit geword het en dit lyk of die aantasting dieper as die vel is, dan is dit velsiekte. As die priester dit sien, moet hy hom •onrein verklaar. 4 As dit 'n ligte vlek op die vel is en dit lyk nie dieper as die vel en die hare daarop het nie wit geword nie, moet die priester die aangetaste persoon sewe dae lank afsonder. 5As die priester hom op die sewende dag ondersoek, en hy vind dat die aangetaste plek volgens sy waarneming dieselfde gebly het en nie op die vel versprei het nie, moet die priester hom weer 'n keer sewe dae lank afsonder. 6 As die priester hom dan weer op die sewende dag ondersoek, en hy vind die aangetaste plek het dof geraak en het nie op die vel versprei nie, moet die priester hom rein verklaar. Dit is dan net 'n skurwe plek. Hy moet sy klere was, en dan is hy rein. 7Maar as die skurwe plek op die vel wel groter word nadat hy dit aan die priester getoon het om rein verklaar te word, moet hy hom weer aan die priester gaan toon. 8As die priester hom ondersoek en vind dat die skurwe plek op die vel groter geword het, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is velsiekte.
9“Wanneer iemand velsiekte het, moet hy na die priester gebring word. 10 As die priester hom ondersoek en vind dat daar 'n wit swelsel op die vel is en dit het die hare wit laat word, en dat daar rou weefsel in die swelsel is, 11is die siekte gevestig in sy vel. Die priester moet hom onrein verklaar en hom nie afsonder nie, want hy is onrein. 12Maar as die velsiekte wel op die vel versprei het sodat dit, so ver as wat die priester kan sien, die hele vel van die aangetaste persoon van kop tot tone bedek, 13en die priester ondersoek hom en vind dat die velsiekte wel sy hele liggaam bedek, moet hy die aangetaste persoon rein verklaar. Hy het heeltemal wit geword; hy is rein. 14Maar sodra daar rou weefsel op hom verskyn, is hy onrein. 15As die priester die rou weefsel sien, moet hy hom onrein verklaar. Die rou weefsel is onrein; dit is velsiekte. 16As die rou weefsel egter herstel en weer wit word, moet hy na die priester gaan. 17As die priester hom ondersoek en hy vind dat die aangetaste plek wit geword het, moet hy die aangetaste persoon rein verklaar; hy is rein.
18“ Wanneer daar op iemand se vel 'n sweer was wat gesond geword het 19en in die plek van die sweer ontstaan 'n wit swelsel of 'n bleekrooi ligte vlek, moet hy hom aan die priester gaan toon. 20As die priester dit ondersoek en vind dit lê onder die vel en die hare daarop het wit geword, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte wat in die sweer uitslaan. 21Maar as die priester dit ondersoek en vind dat daar geen wit hare op is nie, dat dit nie onder die vel is nie en dat dit dof geword het, moet die priester hom sewe dae lank afsonder. 22As dit dan wel in die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte. 23Maar as die ligte vlek dieselfde gebly het en nie versprei het nie, dan is dit 'n letsel van die sweer. Die priester moet hom rein verklaar.
24“Wanneer daar 'n brandwond op iemand se vel is en die rou weefsel van die wond word 'n bleekrooi of wit ligte vlek, 25en die priester ondersoek dit en vind dat die hare op die ligte vlek wit geword het en dit lyk dieper as die vel, is dit velsiekte wat in die brandplek uitslaan. Die priester moet hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte. 26As die priester dit egter ondersoek en vind dat daar nie wit hare op die ligte vlek is nie, dat dit nie onder die vel is nie en dat dit dof geword het, moet die priester hom sewe dae lank afsonder. 27Die priester moet hom op die sewende dag ondersoek: As dit wel in die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte. 28Maar as die ligte vlek dieselfde gebly het, nie in die vel versprei het nie en dof geword het, is dit die swelsel van die brandplek. Die priester moet hom rein verklaar, want dit is net die letsel van die brandwond.
29“Wanneer 'n man of 'n vrou 'n aangetaste plek op sy of haar kop, of in sy baard het, 30en die priester ondersoek die aangetaste plek en vind dat dit dieper lyk as die vel, en dat daar geel, dun hare op is, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n uitslag, velsiekte van die kop of baard. 31Maar indien die priester die aangetaste plek van die uitslag ondersoek en hy vind dit lê nie dieper as die vel nie en daar is nie swart hare op nie, moet die priester die aangetaste persoon met die uitslag sewe dae lank afsonder. 32As die priester die aangetaste persoon op die sewende dag ondersoek en vind die uitslag het nie versprei nie, daar is nie geel hare op nie en die uitslag lê nie dieper as die vel nie, 33moet die persoon hom skeer. Die plek waar die uitslag is, moet hy egter nie skeer nie. Die priester moet die persoon met die uitslag dan weer sewe dae lank afsonder. 34As die priester die persoon met die uitslag op die sewende dag ondersoek en vind dat die uitslag nie in die vel versprei het nie en nie dieper as die vel lê nie, moet die priester hom rein verklaar. Hy moet sy klere was. Dan is hy rein. 35As die uitslag dan wel in die vel versprei nadat hy rein verklaar is, 36en die priester ondersoek dit, en vind die uitslag het versprei in die vel, hoef die priester nie te soek vir geel hare nie. Hy is onrein. 37Maar as die uitslag volgens sy waarneming dieselfde gebly het en daar groei swart hare op, het die uitslag genees. Hy is rein en die priester moet hom rein verklaar.
38“Wanneer daar ligte vlekke, wit vlekke op die liggaam van 'n man of vrou is, 39en die priester dit ondersoek en vind dat daar op die vel dowwe wit ligte vlekke is, is dit velverwitting wat op die vel uitslaan. Die persoon is rein.
40“Wanneer 'n man se hare bo-op sy kop uitval, raak hy maar net bles. Hy is rein. 41As die hare aan die voorkant van sy kop uitval, raak sy voorkop kaal. Hy is rein. 42Wanneer daar egter op sy bles of kaal voorkop 'n bleekrooi aangetaste plek is, is dit dalk velsiekte wat op sy bles of kaal voorkop uitslaan. 43As die priester hom ondersoek en vind dat die swelsel van die bleekrooi aangetaste plek op sy bles of kaal voorkop lyk soos velsiekte op die lyf, 44is dit 'n man met velsiekte; hy is onrein. Die priester moet hom beslis onrein verklaar. Dit is op sy kop waar hy aangetas is.
45 “Iemand wat velsiekte êrens aan hom het, se klere moet geskeur wees, sy hare moet los hang en hy moet sy snor bedek. ‘Onrein! Onrein!’ moet hy uitroep. 46So lank as wat hy die velaandoening het, sal hy onrein wees; hy is onrein. Hy moet eenkant woon. Sy blyplek moet buite die kamp wees.”
Voorskrifte oor skimmel op klere
47“Wanneer daar op 'n kledingstuk 'n mufkol verskyn, of dit nou 'n kledingstuk van wol of linne is, 48óf op die skering en inslag van linne en wol wat geweef word, óf op leer of enige gebruiksartikel van leer, 49en die besmetting op die kledingstuk, die skering en inslag, leer of enige leerartikel, is groenerig of rooierig, is dit met skimmel besmet. Dit moet vir die priester gewys word. 50Die priester moet die besmette artikel ondersoek en dit sewe dae lank afsonder. 51 Hy moet op die sewende dag die besmette artikel ondersoek. Indien die besmetting versprei het op die kledingstuk, die skering en inslag of op die leer, waarvoor die leer ook al daagliks gebruik word, is die besmetting skadelike skimmel. Dit is onrein. 52Hy moet die kledingstuk, die skering en inslag van wol of linnestof, of enige leerartikel waarop die besmetting is, verbrand omdat dit skadelike skimmel is. Met vuur moet dit verbrand word.
53“As die priester dit egter ondersoek en vind dat die besmetting nie op die kledingstuk, skering en inslag of enige leerartikel versprei het nie, 54moet hy opdrag gee dat die artikel waarop die besmetting is, gewas word. Hy moet dit dan weer sewe dae lank afsonder. 55As die priester die besmette artikel ondersoek nadat dit gewas is en hy vind dat die besmetting volgens sy waarneming nie verander het nie, is dit onrein, al het dit nie versprei nie. Met vuur moet jy dit verbrand. Dit is swambesmetting, of dit nou aan die voor- of agterkant is. 56Maar as die priester dit ondersoek en vind dat die besmetting dof is nadat dit gewas is, moet hy dit uitskeur uit die kledingstuk, die leer of die skering en inslag. 57As dit egter weer verskyn op die kledingstuk, die skering en die inslag, of enige leerartikel, het dit hervat. Met vuur moet jy die artikel waarop die besmetting is, verbrand. 58Die kledingstuk, die skering en inslag of enige leerartikel wat jy gewas het en waaruit die besmetting verdwyn het, moet 'n tweede keer gewas word. Dit is dan rein.
59“Dit is die voorskrifte oor hoe om iets wat met skimmel besmet is, 'n kledingstuk van wol of linne, die skering en inslag van weefwerk of enige leerartikel, rein of onrein te verklaar.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

Video for Levitikus 13