Josua 10:7-14

Josua 10:7-14 AFR20

Josua het toe van Gilgal af opgetrek, hy en al die weerbare manskappe saam met hom, al die dapper krygers. Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek gee hulle in jou hand. Niemand van hulle sal voor jou staande bly nie.” Josua het hulle verras; hy het die hele nag vanaf Gilgal getrek. Die HERE het hulle verward laat raak voor Israel, en Josua het hulle 'n groot nederlaag toegedien by Gibeon. Hy het hulle agtervolg in die rigting van die opdraande by Bet-Goron, en hulle afgemaai tot by Aseka en Makkeda. Terwyl hulle op vlug was voor Israel teen die afdraande by Bet-Goron, het die HERE groot klippe uit die hemel op hulle gewerp, tot by Aseka, sodat hulle gesterf het. Dié wat deur die haelstene gesterf het, was meer as dié wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is. Dit was in dié tyd dat Josua met die HERE gepraat het, die dag toe die HERE die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die vallei van Ajalon! ” En die son het stilgestaan en die maan het gaan staan, totdat 'n nasie wraak geneem het op sy vyande. Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie. Daar was nooit tevore of daarna 'n dag soos hierdie nie, waarop die HERE geluister het na die stem van 'n mens. Ja, die HERE het vir Israel geveg.