Jona het uit die vis se maag tot die HERE sy God gebid. Hy het gesê: “In my nood het ek na die HERE geroep, en Hy het my geantwoord. Uit die ingewande van die •doderyk het ek om hulp geroep, en U het my stem gehoor. U het my in die diepte gegooi, in die hart van die oseane. Seestrome het my omring, al u golwe en branders het oor my gespoel. “ Ek self het gedink, ek is weggewerp, onder u oë uit. Maar ek sal weer u •heilige •tempel sien! Water het my tot aan my keel omsluit, •oerwater het my omring; seewier het my kop omstrengel. Na die basis van die berge het ek afgesak; die aarde – haar sluitbalke was vir altyd toe agter my. “Maar tog het U my lewe uit die grafkuil opgetrek, HERE my God! Terwyl die lewe uit my vloei, het ek net aan die HERE gedink. My gebed het U in u heilige tempel bereik. “ Wie nuttelose afgode dien, versaak hulle trou aan die verbond. Maar ek, met 'n danklied wil ek aan U 'n offer bring, wat ek beloof het, sal ek betaal. Dit is die HERE wat redding bring.” Die HERE het toe die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spoeg.
Lees Jona 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: Jona 2:1-10
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's