Joël 2:1-17

Joël 2:1-17 AFR20

Blaas die •ramshoring op Sion, maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land moet bewe, want die dag van die HERE is aan die kom, ja, dit is naby! Dit is 'n dag van duisternis en donkerte, 'n dag van wolke en diepe duisternis. Soos die rooidag wat oor die berge uitsprei, so is daar 'n groot en magtige volk soos daar nog nooit tevore was, of ooit weer sal wees nie tot in die verste nageslag. Voor hulle uit verteer 'n vuur, en agter hulle verskroei 'n vlam. Soos die tuin van Eden is die land voor hulle, maar agter hulle lê 'n verlate woestyn. Boonop is dit nie moontlik om van hulle te ontvlug nie. Soos perde lyk hulle, soos oorlogsperde, so hardloop hulle. Soos met die geratel van strydwaens storm hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van vlamme wat strooi verteer, soos 'n magtige volk wat vir die oorlog opgestel is. Voor hom bewe volke, almal se gesigte is doodsbleek. Soos krygshelde storm hulle, soos krygsmanne klim hulle teen die stadsmuur uit: Elkeen van hulle gaan reguit vorentoe, hulle verander nie van rigting nie. Die een hinder die ander nie, elke manskap bly op koers; al sneuwel sommige onder die aanslag, hulle wyk nie af nie. Hulle bestorm die stad, op die stadsmuur hardloop hulle, die huise val hulle binne, deur die vensters klim hulle soos diewe. Voor hierdie volk bewe die aarde, skud die hemele. Son en maan word duister, die sterre hou hulle glans terug. En die HERE self verhef sy stem voor sy leërmag uit, want geweldig groot is sy leër, ja, magtig is hulle wat sy bevel uitvoer. Voorwaar, die dag van die HERE is groot, uitermate verskriklik – wie kan dit verduur? “Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die HERE. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat 'n seëning agter Hom oorbly – 'n •graanoffer en 'n •drankoffer vir die HERE julle God. Blaas die ramshoring op Sion, bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die HERE staan. Hulle moet sê: “Spaar u volk, HERE, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ”

Video for Joël 2:1-17

Gratis leesplanne en oordenkings oor Joël 2:1-17