Job 40
40
God se tweede antwoord aan Job
1 Die Here het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê:
2“ Omgord maar jou heupe soos 'n man!
Ek sal jou ondervra,
lig jy My dan in!
3 Wil jy werklik my beslissings dwarsboom,
My skuldig verklaar,
sodat jy gelyk kan hê?
4Of het jy 'n arm soos dié van God?
Kan jy soos Hy jou stem laat donder?
5 Tooi jou dan met majesteit en aansien;
klee jou met luister en glans.
6 Laat jou woedebuie oral uitbars;
sien elkeen raak wat verwaand is
en verneder hom.
7Sien elkeen raak wat verwaand is
en dwing hom op sy knieë.
Vertrap goddeloses net daar
waar hulle is.
8 Verberg hulle saam in die stof.
Hou hulle gevange in die verborgene.
9Selfs Ek sal jou dan prys,
omdat jou regterhand
jou te hulp gekom het.
10“Kyk na Behemoot,
wat Ek gemaak het,
soos Ek jou ook gemaak het.
Hy eet gras soos 'n bees.
11Kyk na die krag in sy kruis.
En sy manlike krag,
dit is in die spiere van sy buik.
12Hy maak sy stert styf soos 'n seder,
die senings van sy dye is ineengevleg.
13Sy gebeente is bronspype,
sy bene soos ysterstawe.
14Hy is die voortreflikste van God se werke;
Hy wat hom gemaak het,
het sy swaarde verskaf.
15Ja, die opbrengs van die berge
word na hom aangedra,
daar waar al die diere
van die veld baljaar.
16Onder lotusbome lê hy,
in 'n skuilplek van riete en moeras.
17Lotusbome bedek hom met skaduwee;
rivierwilgers omring hom.
18Kyk, die rivier kan maar afkom,
hy gee nie haastig pad nie;
hy bly rustig,
al stu die Jordaan teen sy bek.
19Sal iemand hom aan sy oë beetpak,
met stokke sy neus deurboor?
20“Kan jy 'n leviatan aan 'n hoek intrek,
met 'n tou sy tong
onder bedwang bring?
21 Kan jy 'n biesie deur sy neus sit,
met 'n doring sy wang deurboor?
22Sal hy baie smeekbedes tot jou rig,
of saggies met jou praat?
23Sal hy 'n ooreenkoms met jou sluit,
dat jy hom as lewenslange slaaf neem?
24Kan jy met hom speel soos met 'n voël,
hom vasbind vir jou dogters?
25Sal handelsvennote oor hom onderhandel,
hom tussen handelaars verdeel?
26Kan jy sy vel vol harpoene steek,
en sy kop vol visspiese?
27As jy jou hand op hom plaas,
sal jy die geveg onthou;
jy sal dit nie weer doen nie.
28Kyk, enige verwagting
om hom te vang, is misplaas.
Sal selfs net sy voorkoms
nie 'n mens laat neerslaan nie?
Tans Gekies:
Job 40: AFR20
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.