Job 38:1-18

Job 38:1-18 AFR20

Die HERE het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê: “ Wie is hierdie een wat 'n plan vertroebel met woorde sonder kennis? Omgord maar jou heupe soos 'n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in! Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? Maak dit bekend as jy die insig verwerf het! Wie het die afmetings daarvan bepaal? Sê as jy dit weet! Of wie het 'n maatband daaroor gespan? Waarop is sy voetstukke ingesink? Of wie het die hoeksteen daarvan gelê terwyl die oggendsterre saam gejubel, en al die hemelwesens gejuig het? Wie het met dubbeldeure die see ingeperk toe dit uitgebreek, uit die baarmoeder voortgekom het, toe Ek wolke sy bokleed gemaak, en hom in 'n diepe duisternis toegedraai het, toe Ek my grens bo hom oopgebreek het, en 'n sluitbalk en dubbeldeure in plek geplaas het, en toe Ek gesê het, ‘Tot hier mag jy kom, maar nie verder nie; hier word my grens geplaas teen jou trotse golwe! ’? “ Het jy op enige van jou lewensdae 'n opdrag aan die oggend gegee, vir die rooidag sy plek aangewys deur die some van die aarde vas te vat, sodat goddeloses daarvan afgeskud word? Die aarde verander soos klei onder 'n rolseël, sodat alles vorm kry soos 'n bokleed. Goddeloses word van hulle lig ontneem, en 'n opgehefde voorarm word gebreek. “Het jy al gekom tot by die bronne van die see, en in die onbekende dele van die diep waters rondgeloop? Is die poorte van die dood vir jou blootgelê, en die poorte van die pikdonkerte – het jy dit gesien? Het jy al ag geslaan op die uitgestrektheid van die aarde? Vertel, as jy dit alles weet!