Job 37:1-24

Job 37:1-24 AFR20

Ja, hieroor bewe my hart, klop dit in my keel. Luister goed na die gerammel van sy stem; die dreuning wat uit sy mond kom. Oral onder die hemelruim laat Hy dit vry, ook sy weerlig oor die uithoeke van die aarde. Daarna brul sy stem; Hy laat dit dreun met sy luisterryke stem. Hy hou die weerligstrale nie terug wanneer sy stem gehoor word nie; God laat dit wonderbaarlik dreun met sy stem, Hy doen groot dinge, en ons kan dit nie deurdink nie. Ja, aan die sneeu gee Hy die opdrag, ‘Val op die aarde!’ ook aan die stortreën, die stortbuie wat sy krag toon. Die hand van elke mens verseël Hy, sodat alle mense sy handewerk kan leer ken. Wilde diere gaan in hulle skuilplekke in, in hulle lêplekke bly hulle. Uit die kamer agter die horison kom stormwinde; drywende winde bring die koue. Die asem van God maak ys; die uitgestrekte waters vries vas, asof gegiet. Ja, Hy belaai die wolke met 'n oorvloed vog; die wolkbank versprei sy weerlig. Die wolke beweeg oral rond, gaan heen en weer volgens sy beskikking, om op die oppervlakte van die aarde alles te doen wat Hy beveel. Of dit nou is om te straf, of tot voordeel van sy grond, of om liefde te bewys, Hy laat hulle die doel bereik. “Luister hierna Job! Staan stil en gee aandag aan God se wonders. Hy laat die weerlig in sy wolkbank flits. Begryp jy dit wanneer God vir hulle reëls neerlê? Begryp jy iets van die wegdryf van wolke – wonderwerke van Een met volmaakte kennis? Jy, wie se klere te warm is wanneer die aarde stil raak uit die suide, kan jy saam met Hom 'n wolkemassa plet, so solied soos 'n spieël van gegote koper? “Maak aan ons bekend wat ons vir Hom moet sê! Ons kan nie die saak uiteensit nie, weens die duisternis. Sal dit aan Hom vertel word dat ek praat; of sê iemand, ‘Dit moet aan God meegedeel word’? “Maar nou – mens sien nie weerlig, dit wat helder in die wolkemassa was nie. Die wind het verbygekom en dit opgeruim. Uit 'n goue noorde kom Hy; by God is die majesteit ontsagwekkend. Die Almagtige – ons kan Hom nie bereik nie, Hy wat verhewe is in krag. Die reg en volle geregtigheid sal Hy nooit geweld aandoen nie. Hierom koester mense ontsag vir Hom: Hy gee nie voorkeur aan enige van die wyses van hart nie. ”