Johannes 9:1-41

Johannes 9:1-41 AFR20

En in die verbygaan het Jesus 'n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? ” Jesus het geantwoord: “Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. Ons moet die dade doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en modder van die speeksel gemaak, die modder aan sy oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam” – wat, as dit vertaal word, ‘gestuurde’ beteken. Hy het toe gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Die bure en die mense wat hom voorheen gesien het toe hy 'n bedelaar was, sê toe: “Is dit tog nie hy wat gesit en bedel het nie?” Ander het gesê: “Dit is hy!” Nog ander het gesê: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” Maar hy het gesê: “Dit ís ek!” Hulle vra hom toe: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” Hy antwoord: “Die man wat Jesus genoem word, het modder gemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê, ‘Gaan na Siloam en was jou.’ Ek het toe gegaan en my gewas, en ek het begin sien.” Hulle het hom gevra: “Waar is hy nou?” Hy sê toe: “Ek weet nie.” Hulle neem toe die man wat voorheen blind was na die •Fariseërs. Die dag waarop Jesus die modder gemaak en sy oë oopgemaak het, was 'n Sabbat. Die Fariseërs het hom toe weer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het modder op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.” Sommige van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie. ” Ander het egter gesê: “Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen?” En hulle was verdeeld. Hulle sê toe weer vir die blinde man: “Wat sê jý van hom, aangesien hy jou oë oopgemaak het?” En hy antwoord: “Hy is 'n profeet.” Die Jode het egter nie geglo dat hy blind was en begin sien het nie – totdat hulle die man wat begin sien het, se ouers geroep het en vir hulle gevra het: “Is hierdie man julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?” Sy ouers antwoord toe: “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is. Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë oopgemaak het, weet ons nie. Vra hom – hy is oud genoeg; hy sal vir homself praat.” Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het naamlik reeds ooreengekom dat as iemand Hom openlik as die Christus sou bely, hy uit die •sinagoge geban sou word. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg – vra hom.” Hulle het toe die man wat blind was 'n tweede keer laat roep en vir hom gesê: “Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is.” Hy het toe geantwoord: “Of hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek, dat ek blind was, en nou sien ek.” Hulle het toe vir hom gesê: “Wat het hy met jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?” Hy antwoord hulle: “Ek het reeds vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Wat wil julle weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?” Hulle het hom toe uitgeskel en gesê: “Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie. ” Die man het hulle geantwoord: “Wel, dit is verbasend! Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, en tog het hy my oë oopgemaak. Ons weet dat God sondaars nie verhoor nie, maar as iemand godvresend is en sy wil doen, verhoor Hy hom. Van die begin van die wêreld af het niemand nog ooit daarvan gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore persoon oopgemaak het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle het hom geantwoord: “Jy is heeltemal in sonde gebore, en probeer jy ons leer?” En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die •Seun van die Mens?” Hy het geantwoord: “Wie is Hy, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy kyk na Hom. Hy wat met jou praat, dit is Hy.” Toe sê hy: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid. En Jesus het gesê: “Ter wille van 'n beslissing het Ek na hierdie wêreld gekom, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, blind kan word.” Van die •Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is tog nie ook blindes nie?” Jesus het vir hulle gesê: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie, maar nou sê julle, ‘Ons sien.’ Daarom bly julle in julle sonde.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid