Johannes 4:7-41

Johannes 4:7-41 AFR20

Daar kom toe 'n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, u het nie eers 'n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?” Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. ” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie dors word en hierheen hoef te kom om te skep nie.” Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” Jesus sê vir haar: “Jy sê tereg, ‘'n Man het ek nie,’ want jy het vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid, maar julle sê, ‘Jerusalem is die plek waar aanbid moet word.’ ” Jesus sê vir haar: “Vrou, glo My, daar kom 'n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid. Julle aanbid dit wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. Daar kom egter 'n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. ” Die vrou sê vir Hom: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak. ” Jesus sê vir haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.” Juis op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom, en hulle was verbaas, omdat Hy besig was om met 'n vrou te praat. Tog het niemand gevra: “Wat wil U van haar hê?” of “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik daar gelos, na die dorp gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe? ” Hulle het uit die dorp gegaan en was op pad na Hom toe. Intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: “Rabbi, eet iets.” Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels vra toe onder mekaar: “Iemand het tog nie vir Hom iets te ete gebring nie?” En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle dan nie, ‘Dit is nog vier maande, dan kom die oes’ nie? Waarlik, Ek sê vir julle, kyk op en aanskou die lande; hulle staan reeds wit vir die oes. Hy wat oes, ontvang sy loon en samel die oes in vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees. Want in hierdie opsig is die gesegde waar, ‘Die een saai, en die ander maai.’ Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waarvoor julle nie geswoeg het nie. Ander het geswoeg en julle het voordeel getrek uit hulle harde arbeid.” Baie van die Samaritane uit daardie dorp het in Hom geglo op grond van die woord van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly, en Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer van hulle het op grond van sy woorde tot geloof gekom

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid