Johannes 20:1-23

Johannes 20:1-23 AFR20

En vroegoggend, op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalena tot by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is. Sy hardloop toe en gaan na Simon •Petrus en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Petrus en die ander dissipel het toe uitgegaan en na die graf gegaan. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, en die doek wat oor sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant, afsonderlik opgerol. Toe het ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, binnegegaan, en hy het gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk en twee engele met wit klere aan daar sien sit, waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop en een waar sy voete was. Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier, en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy het omgedraai en – in Hebreeus – vir Hom gesê: “Rabboeni! ” Dit beteken ‘Leermeester’. Jesus sê vir haar: “Moenie My langer vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’ ” Maria Magdalena gaan vertel toe aan die dissipels: “Ek het die Here gesien,” en dat Hy hierdie dinge vir haar gesê het. Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week. Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. ” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees! As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.”