Johannes 19:4-18, 20-37

Johannes 19:4-18 AFR20

Pilatus het weer uitgekom na buite en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle na buite, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Jesus het uitgekom na buite, met die doringkroon op sy kop en met die purperrooi mantel om. Pilatus sê toe vir hulle: “Kyk, die mens!” Toe die leierpriesters en die tempelwagte Hom sien, het hulle geskreeu: “Kruisig, kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Vat julle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie.” Die Jode antwoord hom toe: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy sterf, omdat hy homself •Seun van God gemaak het. ” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy nog meer beangs geword. Hy het die pretorium weer binnegegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is u?” Jesus het hom egter nie 'n antwoord gegee nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan 'n groter sonde skuldig.” Van dié oomblik af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat, maar die Jode het geskreeu: “As u hierdie man vrylaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself koning maak, verset hom teen die keiser.” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus na buite gebring, en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipplaveisel genoem word – in Hebreeus Gabbata . Dit was die Voorbereidingsdag vir die Pasga, ongeveer die sesde uur. Toe sê Pilatus vir die Jode: “Kyk, daar is julle koning!” Hulle het egter geskreeu: “Weg, weg met hom! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie 'n koning nie, slegs die keiser.” Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

Johannes 19:20-37 AFR20

Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.” Dit is wat die soldate toe gedoen het. By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe 'n spons vol suur wyn op 'n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee. Aangesien dit die Voorbereidingsdag was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie – want daardie Sabbat was 'n belangrike dag – het die Jode vir •Pilatus gevra dat die bene gebreek en die liggame verwyder moet word. Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek, en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. Een van die soldate het egter met 'n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom. Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En 'n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”