Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê:
“Hulle het my boklere
onder mekaar gedeel
en oor my klere
het hulle die lot gewerp.”
Dit is wat die soldate toe gedoen het. By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe 'n spons vol suur wyn op 'n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.
Aangesien dit die Voorbereidingsdag was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie – want daardie Sabbat was 'n belangrike dag – het die Jode vir •Pilatus gevra dat die bene gebreek en die liggame verwyder moet word. Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek, en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. Een van die soldate het egter met 'n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom. Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En 'n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
Hierna het Josef van Arimatea, wat uit vrees vir die Jode in die geheim 'n dissipel van Jesus was, •Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat voorheen gedurende die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom en 'n mengsel van ongeveer 'n honderd litra mirre en adelhout gebring. Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit saam met geurige speserye in linnedoeke toegedraai, soos dit die Jode se gebruik is by 'n begrafnis. By die plek waar Hy gekruisig is, was daar 'n tuin, en in die tuin 'n nuwe graf waarin niemand nog ooit neergelê is nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê, omdat dit die Voorbereidingsdag van die Jode was, en aangesien die graf daar naby was.