Johannes 14:5-12

Johannes 14:5-12 AFR20

Thomas sê vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Jesus sê vir hom: “Ek is al so 'n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan.