Johannes 11:1-44

Johannes 11:1-44 AFR20

Daar was 'n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die •Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.” Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” Thomas, wat bekend staan as Didimus, het toe vir sy mededissipels gesê: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf. ” Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer vyftien stadion ver, en baie van die Jode het na Martha en Maria gekom om hulle oor hulle broer te troos. Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee.” Jesus sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.” Martha sê toe vir Hom: “Ek weet dat hy sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.” Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?” Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die •Seun van God, Hy wat na die wêreld kom. ” En nadat Martha dit gesê het, het sy gegaan, haar suster Maria eenkant toe geroep, en vir haar gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” Toe Maria dit hoor, het sy haastig opgestaan en na Hom gegaan. Jesus het nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Martha Hom ontmoet het. Toe die Jode wat by haar in die huis was en haar vertroos het, sien dat Maria haastig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg, omdat hulle gedink het sy gaan na die graf om daar te huil. Toe Maria aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” Jesus het begin huil. Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?” Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid