Johannes 10:1-10

Johannes 10:1-10 AFR20

“Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim – daardie man is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die hek ingaan, is 'n herder van die skape; vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van vreemdes nie ken nie.” Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel, maar hulle het nie begryp wat Hy vir hulle sê nie. Jesus het toe weer gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; die skape het egter nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Video for Johannes 10:1-10