Johannes 1:26-36

Johannes 1:26-36 AFR20

Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. ” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!”