Jeremia het toe vir die hele volk en vir al die vroue gesê: “Hoor die woord van die HERE, ganse Juda wat in Egipteland is! So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Julle en julle vroue, julle het met julle eie monde verklaar en dit met julle hande uitgevoer: “Ons sal beslis ons geloftes wat ons afgelê het, nakom om vir die koningin van die hemel offers te verbrand en vir haar drankoffers uit te giet.” Doen dan julle geloftes beslis gestand! Voer julle geloftes beslis uit!’ Daarom, hoor die woord van die HERE, ganse Juda wat in Egipteland woon, ‘Kyk, Ek lê 'n eed af by my groot Naam;’ sê die HERE, ‘in die hele Egipteland sal my Naam nooit weer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda wat sê, “So waar as my Heer, die HERE, leef!” nie. Kyk, Ek waak oor hulle ten kwade en nie ten goede nie. Al die mans van Juda wat in Egipteland is, sal deur die swaard en hongersnood omkom, totdat hulle vernietig is. En hulle wat aan die swaard ontkom, net 'n paar, sal uit Egipteland na die land Juda terugkeer. Die hele oorblyfsel van Juda wat na Egipteland gekom het om as vreemdelinge daar te woon, sal dan weet wie se woord standhou, myne of hulle s'n. En dit sal vir julle die teken wees,’ is die uitspraak van die HERE, ‘dat Ek van julle rekenskap eis op hierdie plek, sodat julle kan weet dat my woorde wat ten kwade teen julle gerig is, beslis sal standhou.’ So sê die HERE: ‘Kyk, Ek gaan farao Hofra, koning van Egipte, oorgee in die hand van sy vyande en in die hand van hulle wat sy lewe soek, soos Ek Sedekia, koning van Juda, oorgegee het in die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië, sy vyand, wat sy lewe gesoek het. ’ ”