Jeremia 33

33
Verdere beloftes van herstel
1 Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jeremia gekom terwyl hy nog onder arres was in die binnehof van die wagte se kwartiere: 2“So sê die Here wat die aarde gemaak het, die Here wat dit gevorm het om dit stewig te vestig – Here is sy Naam, 3 ‘Roep My aan, en Ek sal jou antwoord; Ek wil aan jou groot en onbegryplike dinge bekend maak wat jy nie geweet het nie.’ 4Ja, so sê die Here, die God van Israel, ‘Wat die huise van hierdie stad betref, en die huise van die konings van Juda wat afgebreek is vir die beleëringswalle en wapens, 5toe hulle, die Galdeërs, op pad was om oorlog te voer, en om dit te vul met die lyke van mense wat Ek neergevel het in my toorn en woede, hulle vir wie Ek my gesig verberg het vanweë hierdie stad, oor al hulle boosheid: 6 Kyk, Ek gaan Jerusalem herstel en genesing laat plaasvind; Ek sal hulle gesond maak. Ek sal aan hulle 'n rykdom van vrede en bestendigheid openbaar. 7 Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander, en hulle weer bou soos voorheen. 8Ek sal hulle reinig van al hulle sondeskuld waarmee hulle teen My gesondig het. Ek sal al hulle sondeskuld vergewe waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het. 9 En Jerusalem sal vir My 'n naam wees wat vreugde verskaf – as 'n lofprysing en 'n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie dinge wat Ek vir hulle doen. Hulle sal sidder en beef oor al die goeie dinge en oor al die voorspoed wat Ek vir haar voorsien.’
10“ So sê die Here, ‘In hierdie plek waarvan julle sê: “Dit lê vervalle, sonder mens of dier” – in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes is, sonder mense, sonder inwoners en sonder diere, sal dit weer gehoor word: 11 die geluid van vrolikheid en vreugde, die stem van bruidegom en bruid, die stem van hulle wat sê,
“Prys die Here,
Heerser oor alle magte,
want die Here is goed,
ja, vir ewig duur sy troue liefde,”
terwyl hulle dank betuig in die huis van die Here. Ja, Ek sal die lot van die land verander om te wees soos voorheen,’ sê die Here.
12“ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘In hierdie plek wat vervalle lê, sonder mense en diere, en in al sy dorpe sal daar weer weiveld wees vir herders wat kleinvee laat lê en rus. 13In die dorpe van die bergland, die dorpe van die Sjefela, van die Negev en van die gebied van Benjamin, en in die omgewing van Jerusalem en in die dorpe van Juda, sal die kleinvee weer verbygaan onder die hand van die een wat hulle tel,’ sê die Here.
14“ ‘Kyk, daar kom dae,’ is die uitspraak van die Here, ‘wanneer Ek die goeie belofte wat Ek oor die huis van Israel en die huis van Juda uitgespreek het, gestand sal doen.
15 “In daardie dae en in daardie tyd
sal Ek vir Dawid
'n spruit van geregtigheid
laat opskiet,
en hy sal doen wat reg en billik is in die land.
16In daardie dae sal Juda verlos word
en Jerusalem sal veilig woon.
En dit is wat sy genoem sal word:
Die Here is ons geregtigheid.’
17“Ja, so sê die Here, ‘Daar sal nie vir Dawid 'n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie; 18 en vir die Levitiese priesters sal daar nie voor My 'n man ontbreek wat altyd •brandoffers bring, •graanoffers verbrand en •maaltydoffers offer nie.’ ”
19Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 20“ So sê die Here, ‘As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, sodat dag en nag nie meer op tyd aanbreek nie, 21sal ook my verbond met Dawid , my dienskneg, verbreek kan word, sodat daar nie vir hom 'n seun sal wees om as koning te regeer op sy troon nie. Dit geld ook my verbond met die Leviete, die priesters wat in my diens is. 22 Soos wat die hemelliggame nie getel en die sand van die see nie afgemeet kan word nie, so sal Ek die nageslag van Dawid, my dienskneg, vermeerder, en ook die Leviete wat in my diens is.’ ”
23Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 24“Het jy nie opgelet wat hierdie volk sê nie? Hulle sê, ‘Die twee familiegroepe wat die Here gekies het – Hy het hulle verwerp!’ Hulle verag my volk, sodat, wat hulle betref, hulle nie meer 'n nasie is nie.” 25So sê die Here: “As Ek my verbond met dag en nag, die voorskrifte vir die hemel en die aarde, nie neergelê het nie, 26dan sou Ek ook die nageslag van Jakob en van Dawid, my dienskneg, verwerp deur nie uit sy nageslag heersers oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob te neem nie. Ja, Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.”

Tans Gekies:

Jeremia 33: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid