Jeremia 22

22
1So sê die Here: “Gaan af na die koning van Juda se paleis; kondig hierdie woord daar aan 2 en sê, ‘Hoor die woord van die Here, koning van Juda, wat op die troon van Dawid sit – jy en jou amptenare en jou volk wat deur hierdie poorte ingaan. 3 So sê die Here: “Laat reg en geregtigheid geskied, en red dié wat beroof word uit die hand van verdrukkers. •Vreemdelinge, vaderloses en weduwees moet julle nie mishandel of geweld aandoen nie, en onskuldige bloed moet julle nie vergiet in hierdie plek nie. 4 Want as julle hierdie woord noukeurig uitvoer, sal konings wat as nageslag van Dawid op sy troon sit, wat op strydwaens en op perde ry, deur die poorte van hierdie paleis ingaan – die koning, sy amptenare en sy volk. 5 Maar as julle nie luister na hierdie woorde nie – by Myself lê Ek 'n eed af –” is die uitspraak van die Here, “sal hierdie paleis 'n puinhoop word.” ’
6“ ‘Ja, so sê die Here oor die paleis van die koning van Juda:
“Jy is vir my 'n Gilead,
die kruin van die Libanon;
maar Ek maak van jou 'n woestyn,
en stede wat nie bewoon word nie.
7Ek sal stroperbendes
volmag gee oor jou –
elke man met sy wapens.
Hulle sal die keur van jou seders
afkap en in die vuur gooi.
8“ ‘ “ Baie nasies sal by hierdie stad verbygaan en vir mekaar vra, ‘Waarom het die Here so gemaak met hierdie groot stad?’ 9Dan sal geantwoord word, ‘Omdat hulle die verbond van die Here hulle God verlaat het en voor ander gode in aanbidding gebuig en hulle gedien het.’
10“ ‘ “ Julle moenie huil oor die dooie nie,
en moenie oor hom meegevoel betuig nie.
Huil bitterlik oor hom
wat weggegaan het;
want hy sal nie weer terugkom nie,
en nie weer sy geboorteland sien nie.”
11“ ‘ Ja, so sê die Here oor Sallum, seun van Josia, die koning van Juda, wat in die plek van sy vader Josia koning geword en van hierdie plek af weggegaan het: “Hy sal nie weer terugkeer nie, 12maar op die plek waarheen hulle hom weggevoer het, daar sal hy sterf. Hierdie land sal hy nie weer sien nie.
13“ ‘ “ Wee hom wat sy huis
herbou met onreg,
en sy bokamers met onregverdigheid,
wat sy medemens verniet laat werk
en nie sy loon vir hom gee nie,
14wat sê, ‘Ek bou vir my
'n ruim paleis met lugtige bokamers;’
en dan vir hom sy vensters uitbreek,
wat oorgetrek word
met sederhout, helderrooi gekleur.
15 Is jy 'n koning omdat jy meeding
in die gebruik van sederhout?
Jou vader, het hy nie maar net
geëet en gedrink,
en reg en geregtigheid beoefen nie?
Toe het dit met hom goed gegaan.
16Hy het die reg van magteloses
en behoeftiges gehandhaaf –
toe het dit goed gegaan.
Is dit nie wat dit is om My te ken nie?” ’
is die uitspraak van die Here.
17“Maar jou oë en jou hart is gerig
op niks anders
as jou onregverdige wins nie,
en op die bloed van die onskuldige –
om dit te vergiet,
en op onderdrukking en afpersing –
om dit uit te voer.
18“ ‘ “Daarom,” so sê die Here oor Jojakim, seun van Josia, die koning van Juda,
“Hulle sal nie vir hom die klaaglied
‘Helaas, my broer!
Helaas, my suster!’ aanhef nie.
Hulle sal nie vir hom die klaaglied
‘Helaas, my heer!
Helaas, majesteit!’ aanhef nie.
19 Hy sal begrawe word soos 'n donkie –
weggesleep en weggegooi
buite die poorte van Jerusalem.
20“ ‘ “Bestyg die Libanon,
roep om hulp,
roep hard in Basan!
Roep om hulp
vanaf die Abarim-hoogland,
want al jou minnaars is verpletter.
21 Ek het jou aangespreek
toe jy sorgeloos was.
Jy het gesê, ‘Ek sal nie luister nie.’
Dit was jou lewenspad van jou jeug af,
dat jy nie na my stem geluister het nie.
22Al jou herders –
die wind sal hulle wegvoer,
en jou minnaars –
in gevangenskap sal hulle gaan.
Ja, dan sal jy beskaamd staan en verneder word
oor al jou boosheid.
23“ ‘ “ Jy wat in die Libanon woon,
wat in seders nesmaak,
hoe sal jy bejammer word
wanneer geboortepyne vir jou aanbreek,
pyn soos 'n vrou wat geboorte gee!
24“ ‘ “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Here, “al was Gonja, seun van Jojakim, koning van Juda, 'n seëlring aan my regterhand, sal Ek jou daar afruk. 25 Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jou lewe soek, in die hand van hulle vir wie jy bevrees is – in die hand van Nebukadresar, koning van Babilonië, en in die hand van die Galdeërs. 26Ek sal jou en jou moeder wat aan jou lewe geskenk het, ver wegwerp na 'n ander land waar julle nie gebore is nie, en daar sal julle sterf. 27En die land waarheen hulle sal verlang om terug te keer – daarheen sal hulle nie terugkeer nie.” ’ ”
28Is hierdie man, Gonja,
'n afgekeurde stuk erdewerk
wat gebreek word,
of 'n houer waarvan niemand hou nie?
Waarom is hy en sy nageslag weggewerp,
weggeslinger na 'n land
wat hulle nie ken nie?
29Land, land, land,
hoor die woord van die Here!
30So sê die Here:
“Skryf hierdie man op as kinderloos,
as 'n man wat nie sukses
sal behaal in sy lewensdae nie;
want uit sy nageslag
sal niemand daarin slaag
om op die troon van Dawid te sit
en weer oor Juda te regeer nie.

Tans Gekies:

Jeremia 22: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid