Jeremia 19

19
Gebreekte kruik as teken
1 So het die Here vir my gesê: “Gaan koop 'n kruik by 'n pottebakker; van die oudstes van die volk en die oudstes van die priesters moet by wees. 2Gaan dan uit na die Ben-Hinnomdal by die ingang na die Potskerfpoort en verkondig daar die woorde wat Ek vir jou sê. 3Jy moet sê, ‘Hoor die woord van die Here, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek, sodat elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit. 4Want hulle het My verlaat, hierdie plek geskend en daarin offers verbrand vir ander gode wat hulle, hulle voorouers en die konings van Juda nie geken het nie. Hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges. 5 Hulle het offerhoogtes vir Baäl gebou om hulle seuns as brandoffers vir Baäl te verbrand – iets wat Ek nie beveel of gesê het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. 6Daarom, kyk, daar kom dae,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “dat hierdie plek nie meer Tofet en Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal. 7Ek sal Juda en Jerusalem se planne op hierdie plek verydel; Ek sal hulle deur die swaard voor hulle vyande laat val, en deur die hand van dié wat hulle lewens soek. Ek sal hulle lyke as voedsel gee vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde. 8 Ek sal hierdie stad 'n skrikbeeld en die rede vir 'n gefluit maak. Elkeen wat by haar verbygaan, sal verslae wees en fluit oor al haar wonde. 9 Ek sal hulle die vleis van hulle seuns en dogters laat eet; en hulle sal mekaar se vleis eet tydens die beleg en die teistering waarmee hulle vyande en die mense wat hulle lewens soek, hulle sal teister.” ’
10“Jy moet dan die kruik breek voor die oë van die manne wat saam met jou gaan. 11Jy moet vir hulle sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Só sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek – soos mens die kleipot van 'n pottebakker breek, sodat dit nie weer heelgemaak kan word nie. In Tofet sal mense begrawe word weens gebrek aan begraafplek. 12Dit sal Ek aan hierdie plek en sy inwoners doen,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “om hierdie stad soos Tofet te maak. 13 Die huise van Jerusalem en die huise van die konings van Juda sal, wat onreinheid betref, soos die plek Tofet word – ja, al die huise waar hulle op die dakke offers verbrand het vir al die hemelliggame, en drankoffers uitgegiet het vir ander gode.” ’ ”
14Jeremia het van Tofet af, waarheen die Here hom gestuur het om te profeteer, gekom en in die voorhof van die huis van die Here gaan staan. Hy het vir die hele volk gesê: 15“So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Kyk, Ek gaan oor hierdie stad en al haar dorpies al die onheil bring wat Ek oor haar uitgespreek het, want hulle was hardnekkig deur nie na my woorde te luister nie. ’ ”

Tans Gekies:

Jeremia 19: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid