Die HERE het vir my gesê: “Moenie bid vir hierdie volk se welstand nie! Wanneer hulle vas, luister Ek nie na hulle klaagroep nie; en wanneer hulle •brandoffers en •graanoffers bring, aanvaar Ek hulle nie. Maar met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek 'n einde aan hulle maak.”
Toe het ek gesê: “Ag, HERE, my Heer, kyk, die profete sê vir hulle, ‘Julle sal geen swaard sien nie, en geen hongersnood lê vir julle voor nie, maar voortdurende vrede gee Ek vir julle op hierdie plek.’ ”
Die HERE het toe vir my gesê: “Dit is leuens wat die profete in my Naam profeteer. Ek het hulle nie gestuur nie en hulle nie opdragte gegee nie. Ek het nie met hulle gepraat nie. Dit is 'n vals visioen, sinlose waarsêery en 'n bedrogspul uit hulle eie harte wat hulle vir julle as profesieë opdis. Daarom, so sê die HERE oor die profete wat in my Naam profeteer, terwyl Ek hulle nie gestuur het nie, hulle wat aanhou sê dat die swaard en hongersnood nie in hierdie land sal kom nie, ‘Deur die swaard en hongersnood sal daardie profete omkom. Die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi word deur hongersnood en die swaard. Maar daar sal niemand wees wat hulle begrawe nie. Dit geld vir hulle, hulle vroue, hulle seuns en dogters. Ek sal hulle eie boosheid oor hulle uitstort.’
“Jy moet vir hulle hierdie woorde sê,
‘My oë moet dag en nag vloei met trane,
en nie tot rus kom nie;
want deur 'n groot ineenstorting
is sy gebreek
– die jongvrou, die dogter
van my volk –
deur 'n uiters pynlike wond.
As ek uitgaan na die veld –
daar is die gesneuweldes deur die swaard!
As ek die stad binnegaan –
daar is die lyding van die hongersnood!
Want sowel die profete as die priesters
swerf rond in 'n land
wat hulle nie ken nie.’ ”
Het U Juda dan heeltemal verwerp?
Of het U 'n hartgrondige afkeer in Sion?
Waarom het U ons geslaan
sonder dat daar vir ons genesing is?
Ons het gehoop op vrede,
maar daar was niks goeds nie,
op 'n tyd van herstel,
maar kyk, daar is net verskrikking.
Ons erken ons goddeloosheid, HERE,
die sondeskuld van ons voorouers.
Ja, ons het teen U gesondig.
Moet ons nie verstoot nie,
ter wille van u Naam;
moenie u heerlike troon ontwy nie!
Onthou tog –
moenie u verbond met ons verbreek nie!
Is daar onder die nietige afgode van die nasies
enige een wat kan laat reën?
Of kan die hemel vanself stortreëns gee?
Is dit nie U nie, HERE ons God?
Ons wag op U,
want U is die een wat dit alles gemaak het.