Jeremia 1

1
Roeping van Jeremia as profeet
1Die woorde van Jeremia, seun van Hilkia, uit die priestergeslag in Anatot, in die gebied van Benjamin. 2Die woord van die Here het tot hom gekom in die dae van Josia, seun van Amon, die koning van Juda, in die dertiende jaar van sy regering, 3en ook in die dae van Jojakim, seun van Josia, die koning van Juda, tot aan die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia, seun van Josia, die koning van Juda, tot met die wegvoering van Jerusalem in die vyfde maand.
4Die woord van die Here het tot my gekom:
5 “Nog voordat Ek jou gevorm het
in die baarmoeder,
het Ek jou geken;
nog voordat jy uitgegaan het
uit die moederskoot,
het Ek jou geheilig.
As profeet vir die nasies
het Ek jou bestem. ”
6 Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog 'n kind. ” 7 Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog 'n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. 8Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die Here.
9 Die Here het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die Here het vir my gesê: “Kyk, Ek lê my woorde in jou mond.
10 “Let op, Ek stel jou vandag aan oor nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.”
11Die woord van die Here het tot my gekom: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien die tak van 'n amandelboom.” 12Toe sê die Here vir my: “Jy het goed gekyk, want Ek is bedag daarop om my woord uit te voer. ”
13 Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek sien 'n stomende pot – sy inhoud kook van die noordekant af oor. ” 14Toe sê die Here vir my: “Uit die noorde sal die onheil losbreek oor al die inwoners van die land. 15Want kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die koninkryke in die noorde oproep,” is die uitspraak van die Here, “en hulle sal kom en hulle sal elkeen sy troon neersit by die ingang van Jerusalem se poorte, en by al haar stadsmure reg rondom, en by al die dorpe van Juda. 16 Ek sal my oordele oor hulle uitspreek weens al hulle boosheid – omdat hulle My verlaat het, vir ander gode offers verbrand het en voor hulle handewerk in aanbidding gebuig het. 17 Maar jy, jy moet jou heupe omgord, gereedmaak en vir hulle alles gaan sê wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou 'n rede om vir hulle bang te wees. 18 En Ek, kyk, Ek maak jou vandag 'n versterkte stad, 'n ysterpilaar en 'n koperstadsmuur teen die hele land – die konings van Juda, Jerusalem se hoë amptenare, haar priesters en die volk van die land. 19Hulle sal teen jou veg, maar sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want Ek is by jou,” is die uitspraak van die Here, “om jou te red!”

Tans Gekies:

Jeremia 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid