Rigters 7:1-8

Rigters 7:1-8 AFR20

Jerubbaäl, dit is Gideon, en al die manskappe wat by hom was, het vroeg opgestaan en kamp opgeslaan by En-Garod. Die kamp van die Midianiete was aan sy noordekant, vanaf die heuwel Morê in die vlakte. Die HERE sê toe vir Gideon: “Die manskappe wat by jou is, is vir My te veel om die Midianiete in hulle hand te gee, anders spog Israel teenoor My en sê, ‘My eie hand het my verlos.’ Kondig dan nou aan, ten aanhore van die manskappe, ‘Wie ook al bang en aan die bewe is, kan omdraai en wegvlug van die berg Gilead. ’ ” Van die manskappe het daar toe twee-en-twintigduisend omgedraai, en tienduisend het oorgebly. Daarop sê die HERE vir Gideon: “Die manskappe is nog te veel. Laat hulle afgaan na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsif. Elkeen van wie Ek vir jou sê, ‘Hierdie een moet met jou saamgaan’, hy moet met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek vir jou sê, ‘Hierdie een moet nie met jou saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.” Hy het die manskappe laat afgaan na die water. Die HERE sê toe vir Gideon: “Almal wat met hulle tong van die water oplek soos 'n hond dit oplek, moet jy apart hou van almal wat op hulle knieë afsak om te drink.” Die getal manne wat opgelek het, was driehonderd; al die ander manskappe het op hulle knieë afgesak om water te drink. Toe sê die HERE vir Gideon: “Met die driehonderd man wat die water opgelek het, gaan Ek julle verlos. Ek sal die Midianiete in jou hand gee. Al die ander manskappe kan maar gaan, elkeen na sy woonplek.” Die driehonderd man het toe die padkos wat die manskappe by hulle gehad het en hulle •ramshorings geneem. Al die ander manne van Israel het Gideon weggestuur, elkeen na sy tente. Maar die driehonderd man het hy teruggehou. Die kamp van die Midianiete was onderkant hom in die vlakte.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Rigters 7:1-8

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid