Rigters 17

17
Miga
1Daar was 'n man uit die heuwelland van Efraim. Sy naam was Miga. 2Hy het vir sy moeder gesê: “Daardie eenduisend eenhonderd sikkel silwer wat van ma gesteel is, en waaroor ma 'n vloek uitgespreek het, wat ma ook ten aanhore van my herhaal het – kyk, die silwer is hier by my. Dit is ek wat dit gevat het.” Sy moeder het gesê: “Geseënd is my seun, deur die Here.
3Hy het toe die eenduisend eenhonderd sikkel silwer teruggegee vir sy moeder, maar sy moeder het gesê: “Ek wy die silwer volledig aan die Here. Dit is uit my hand vir my seun, om daarvan 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld te maak. Ek gee dit dan nou weer vir jou.” 4Maar hy het die silwer weer vir sy moeder teruggegee, en sy moeder het tweehonderd sikkel silwer geneem en dit vir 'n silwersmid gegee. Hy het 'n gesnede beeld, 'n gegote beeld, daarvan gemaak, en dit was toe in Miga se huis.
5Hierdie man, Miga, het 'n heiligdom gehad. Hy het 'n efod en huisgode gemaak en een van sy seuns gewy, en dié het vir hom as priester opgetree. 6 In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.
7Daar was 'n jong man uit Betlehem in Juda, van 'n familiegroep in Juda, maar hy was 'n Leviet en het daar tydelike verblyf gehad. 8Hierdie man het uit die dorp gegaan, uit Betlehem in Juda, om tydelike verblyf te kry, waar hy dit ook al kon vind. Terwyl hy op pad was, kom hy toe in die heuwelland van Efraim by Miga se huis aan.
9Miga het hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Hy het hom geantwoord: “Ek is 'n Leviet uit Betlehem in Juda, en ek is op reis om tydelike verblyf te kry, waar ek dit ook al kan vind.” 10Toe sê Miga vir hom: “Bly by my en wees vir my 'n vader en 'n priester. Ek sal vir jou tien sikkel silwer in 'n jaar gee, asook klere en jou lewensonderhoud.” Die Leviet het daarmee akkoord gegaan. 11Toe het die Leviet besluit om by die man te bly. Die jong man was vir die man soos een van sy eie seuns. 12Miga het die Leviet gewy en die jong man het vir hom 'n priester geword en in Miga se huis gebly. 13Miga het gesê: “Nou weet ek dat die Here vir my goed sal wees, omdat die Leviet vir my 'n priester geword het.”

Tans Gekies:

Rigters 17: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan