Rigters 16:22-31

Rigters 16:22-31 AFR20

Die hare op sy kop het egter weer begin groei nadat dit afgeskeer is. Die regeerders van die Filistyne het byeengekom om 'n groot offer aan Dagon, hulle god, te bring en om aan hulle blydskap uiting te gee. Hulle het gesê: “Ons god het Simson, ons vyand, in ons hand gegee.” Toe die volk hom sien, het hulle hulle god geloof. “Want,” het hulle gesê, “ons god het ons vyand in ons hand gegee – die verwoester van ons land, wat ons gesneuweldes vermeerder het.” Toe hulle harte vrolik geraak het, sê hulle: “Roep vir Simson, dat hy ons kan vermaak.” Hulle roep Simson toe uit die gevangenis, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die pilare laat staan. Simson sê toe vir die jong man wat hom aan die hand gelei het: “Los my, sodat ek die pilare waarop die tempel rus, kan voel en daarteen kan leun.” Die tempel was vol mans en vroue. Al die regeerders van die Filistyne was daar, en op die dak was ongeveer drieduisend mans en vroue wat na Simson se vermakery gekyk het. Toe roep Simson na die HERE en sê: “HERE, my Heer, dink tog aan my! Maak my asseblief nog net hierdie keer sterk, o God, sodat ek my vir een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.” Simson vat toe die twee middelste pilare vas waarop die tempel rus, en leun teen hulle aan, met die een aan sy regterkant en die ander aan sy linkerkant. Daarop sê Simson: “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Toe beur hy met alle mag. Die tempel het ingestort op die heersers en al die mense wat daarin was. Die dooies wat hy met sy sterwe omgebring het, was meer as dié wat hy in sy lewe omgebring het. Sy broers en sy hele familie het toe afgekom en hom weggedra. Hulle het hom terug opgeneem en hom begrawe tussen Sora en Estaol in die graf van Manoag, sy vader. Simson het Israel twintig jaar lank gerig.