Jakobus 3:3-12

Jakobus 3:3-12 AFR20

Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met 'n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. So is die tong ook 'n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek 'n groot hoop hout aan die brand! Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is 'n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? 'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of 'n druiwestok vye nie? 'n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid