As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. Want so 'n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. Hy is 'n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.
Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, en die ryke in sy geringheid, want soos 'n veldblom sal hy vergaan. Want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af, en sy skoonheid gaan tot niet. Net so sal die ryke verwelk in alles wat hy doen.
Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.
Moenie mislei word nie, my geliefde broers. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees.
Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van 'n mens bewerk nie •geregtigheid voor God nie.