Jesaja 63:1-10

Jesaja 63:1-10 AFR20

Wie is dit wat daar uit Edom kom, met helderrooi klere uit Bosra, Hy wat 'n glansryke bokleed dra, wat keldermeester is in die volheid van sy krag? “Ek is die Een wat in geregtigheid spreek – magtig om te verlos.” Waarom is u bokleed rooi, waarom is u klere soos dié van iemand wat druiwe trap in die wynpers? “ Die kuip het Ek alleen getrap; van al die volke was daar niemand by My nie. In my toorn het Ek hulle aanhou trap, hulle fyngetrap in my woede. Hulle lewensbloed het op my klere gespat; my hele uitrusting het Ek besoedel. Want Ek het 'n dag van wraak in gedagte gehad; die jaar van my bloedwraak het aangebreek. Ek het rondgekyk, maar daar was geen helper nie. Ek was verslae – daar was niemand wat ondersteuning bied nie. My voorarm het My tot hulp gekom, my woede, dit het My ondersteun. Ek het volke vertrap in my toorn, hulle dronk gemaak in my woede. Ek het hulle lewensbloed op die grond laat uitloop.” Die troue liefde van die HERE sal ek vermeld, die lofwaardige dade van die HERE, in ooreenstemming met alles wat die HERE aan ons bewys het – die oorvloedige guns vir die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het in sy ontferming en oorvloedige troue liefde. Hy het gesê: “My volk is hulle beslis, kinders wat nie bedrieglik sal optree nie.” So het Hy vir hulle 'n verlosser geword. In al hulle nood was ook Hy in die nood. Die Engel van sy teenwoordigheid het hulle verlos. In sy liefde en medelye was dit Hy wat hulle vrygekoop het. Hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die jare, van lank gelede af. Maar hulle, hulle was opstandig en het sy Heilige Gees bedroef. Hy het teenoor hulle in 'n vyand verander; Hy self het teen hulle geveg.