Jesaja 60:1-13

Jesaja 60:1-13 AFR20

“Staan op, laat jou lig skyn! Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die HERE skyn oor jou. Ja, kyk, donkerte bedek die aarde, en diepe duisternis die volke; maar oor jou skyn die HERE, en oor jou word sy heerlikheid sigbaar. Nasies sal na jou lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms. Kyk om jou rond en neem waar: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. Jou seuns – van ver af kom hulle aan; en jou dogters – op die heup word hulle gedra. Dan sal jy dit sien en jy sal straal; jou hart sal vinniger klop, ruim word. Want die see se oorvloed sal by jou uitgestort word; die nasies se rykdom sal na jou toe kom. 'n Magdom kamele sal jou oordek, jong kamele uit Midian en Efa. Almal uit Skeba sal kom. Goud en wierook sal hulle dra; die goeie nuus van die HERE se lofwaardige dade sal hulle verkondig. Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaar gemaak; die ramme van Nebajot is tot jou beskikking. Hulle sal as aanvaarbare offers na my altaar opgaan. My roemryke huis sal Ek verheerlik. “Wie is dit daardie wat soos 'n wolk aangesweef kom, soos duiwe na hulle neste? Ja, op My wag die eilande; die skepe van Tarsis vaar aan die voorpunt om jou kinders van ver af te bring. Hulle silwer en goud is by hulle, ter ere van die Naam van die HERE, jou God, ter ere van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. “Vreemdes sal jou mure herbou, en hulle konings sal tot jou diens wees. Ja, in my grimmigheid het Ek jou geslaan, maar in my guns ontferm Ek My oor jou. Jou poorte sal altyd oopstaan; bedags en snags sal dit nie gesluit word nie, sodat mense die rykdom van nasies na jou toe kan bring, met hulle konings wat in 'n segetog gelei word. Ja, die nasie en die koninkryk wat jou nie dien nie, sal ondergaan; sulke nasies sal volledig verwoes word. Die luister van die Libanon sal na jou kom – sipresse, wildevliere en dennebome, almal tegelyk – om my heilige plek te versier. Aan die rusplek van my voete sal Ek eer gee.