Jesaja 41:1-29

Jesaja 41:1-29 AFR20

“ Luister in stilte na My, eilande! Laat die volke nuwe krag kry; laat hulle na vore tree, dan kan hulle die woord voer. Laat ons saam nader kom vir die regsgeding. Wie het hom uit die ooste opgewek, hy op wie oorwinning wag met elke tree wat hy gee? Hy laat nasies voor hom verskyn, en konings onderwerp hy. Hy maak hulle soos stof met sy swaard, soos strooi wat wegwaai met sy boog. Hy agtervolg hulle, hy trek ongedeerd verby; hy raak nie met sy voet aan 'n pad nie. Wie het dit bewerk en uitgevoer, terwyl Hy van die begin af die geslagte roep? Ek, die HERE, was die eerste, en by die laaste geslagte sal Ek steeds daar wees. “Die eilande het dit gesien en is bevrees, die eindes van die aarde beef. Hulle het nader gekom, hulle het aangekom; hulle help mekaar. Die een sê vir die ander, ‘Hou moed!’ Die vakman bemoedig die smid; die een wat met 'n hamer die uitklopwerk doen, bemoedig die een wat op 'n aambeeld slaan. Hy sê van die smeewerk, ‘Dit is goed!’ Hulle slaan die beeld met spykers vas, sodat dit nie omkantel nie. “ Maar jy, Israel, my dienskneg, Jakob, wat Ek uitgekies het, nakomeling van Abraham, my vriend, jy, die een wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde af, wat Ek van sy verste dele af geroep het, vir jou het Ek gesê, ‘Jy is my dienskneg!’ Ek het jou uitgekies, jou nie verwerp nie. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand. Kyk, hulle sal beskaamd staan en verneder word – almal wat vir jou kwaad is. Hulle sal soos niks wees en tot niet gaan, daardie manne wat teen jou 'n regstryd voer. Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie, daardie manne wat teen jou stryd voer. Hulle sal soos niks, soos iets niksseggends wees, daardie manne wat teen jou oorlog voer. Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand vas, Ek wat vir jou sê, ‘Moenie bang wees nie – Ek is die Een wat jou help.’ Moenie bang wees nie, wurm Jakob, mense van Israel, Ek is die Een wat jou help!” is die uitspraak van die HERE. “Jou losser is die Heilige van Israel. Kyk, Ek maak jou 'n skerp nuwe dorsslee, een met dubbele rye tande. Jy sal berge dors en fynmaal, en heuwels sal jy soos kaf maak. Jy sal hulle uitwan; die wind sal hulle wegdra; 'n stormwind sal hulle uitmekaar waai. Maar jy sal juig oor die HERE, oor die Heilige van Israel sal jy roem. “Die magteloses en behoeftiges soek water, maar daar is niks; hulle tonge verdroog van dors. Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, Ek sal hulle nie verlaat nie. Op kaal hoogtes laat Ek riviere ontspring, fonteine in die middel van valleie. Van 'n woestyn maak Ek 'n waterryke vleiland, van 'n dor land waterbronne. Ek laat in die woestyn seders, doringbome, mirtebome en wilde-olyfhoutbome opskiet; Ek plant in woestynvlaktes sipresse, en daarmee saam wildevlierbome en dennebome, sodat mense kan sien en erken, dit ter harte neem, en tegelykertyd begryp dat die hand van die HERE dit gedoen het, dat die Heilige van Israel dit geskep het. “Lê julle regsaak voor,” sê die HERE. “Bring julle bewyse!” sê die Koning van Jakob. “ Laat hulle dit bring en ons inlig oor wat gebeur: Die vroeëre gebeure – wat was dit? Lig ons in, sodat ons dit ter harte kan neem, sodat ons kan weet wat die afloop daarvan was; of, die komende gebeure – laat ons hoor wat dit sal wees! Lig ons in oor wat later kom, sodat ons kan weet dat julle gode is. Ja, doen iets goeds of slegs, sodat ons bevrees, ja, almal saam bang kan word. Kyk, julle is minder as niks, en julle dade is minder werd as iets waardeloos! Afstootlik is hy wat vir julle kies. “Ek het hom uit die noorde opgewek, en hy het gekom. Van waar die son opkom, sal hy my Naam aanroep. Hy vertrap landvoogde soos kleigrond, soos 'n pottebakker die klei trap. Wie het dit van die begin af aangekondig, sodat ons kon kennis neem, vantevore al, sodat ons kon sê, ‘Hy was reg!’? Daar is niemand wat dit aankondig nie, niemand wat iets laat hoor nie, ja, niemand wat julle woorde hoor nie. Ek was die eerste om aan Sion te sê, ‘Kyk, hier is hulle wat dit verkondig het!’ Aan Jerusalem gee Ek 'n boodskapper van vreugde. Ek kyk rond, maar daar is niemand nie; onder hulle is daar nie een wat kan raad gee nie. Ek vra hulle, maar hulle antwoord nie. Kyk, hulle almal is niks; hulle dade is niksseggend. Wind en leegheid is hulle gegote beelde.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid