Jesaja 36

36
Verlossing van Jerusalem
1 In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia, het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en hulle verower. 2Die koning van Assirië stuur toe die rabsakee vanaf Lagis na Jerusalem met 'n groot leërmag na koning Hiskia. Hy het stelling ingeneem by die watervoor van die boonste dam, wat aan die pad na die Bleikveld geleë is. 3Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, het uitgegaan na hom toe, asook Sebna, die sekretaris, en die herout Joag, seun van Asaf. 4Die rabsakee sê toe vir hulle: “Sê tog vir Hiskia, ‘So sê die opperkoning, die koning van Assirië: “Wat is hierdie bron van vertroue waarop jy staatmaak? 5Jy dink sekerlik lippetaal is 'n taktiek en 'n kragtige wapen vir die oorlog. Op wie vertrou jy dan nou, dat jy teen my in opstand is? 6 Kyk, jy stel jou vertroue op Egipte, hierdie geknakte rietstaf wat in 'n mens se handpalm steek en dit deurboor wanneer jy daarop leun. So is die farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou. 7En as jy vir my sou sê, ‘Op die Here ons God vertrou ons’? Is Hy dan nie die Een wie se offerhoogtes en altare Hiskia verwyder het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het, ‘Voor hierdie altaar moet julle in aanbidding buig!’ nie?” 8Daarom, het my heer gesê, gaan gerus 'n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië. Ek sal jou tweeduisend perde gee, as jy in staat is om ruiters vir hulle te voorsien. 9Hoe sal jy net een •streekgoewerneur kan terugdryf, een van die onbelangrikste dienaars van my heer, wanneer jy jou vertroue stel op Egipte vir 'n strydwamag en perde? 10Daarom, het ek sonder die Here se medewete teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Dit is die Here wat vir my gesê het: “Trek op teen hierdie land en verwoes dit!” ’ ”
11Eljakim, Sebna en Joag sê toe vir die rabsakee: “Praat asseblief •Aramees met u dienaars, want ons verstaan dit. Moenie met ons Judees praat ten aanhore van die manskappe wat op die stadsmuur is nie.” 12Maar die rabsakee het gesê: “Is dit net na jou heer en na jou wat my heer my gestuur het om hierdie dinge te sê? Is dit nie ook na die manne wat op die stadsmuur sit nie, wat saam met julle hulle ontlasting sal eet en hulle urine sal drink?” 13 Toe gaan staan die rabsakee en roep met 'n harde stem in Judees uit en sê: “Luister na die woorde van die opperkoning, die koning van Assirië! 14So sê die koning, ‘Moenie dat Hiskia julle bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie. 15Moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou deur te sê: “Die Here sal ons beslis red, en hierdie stad sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” ’ 16Julle moet nie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië, ‘As julle met my 'n ooreenkoms aangaan en uitkom na my toe, sal elkeen van sy wingerdstok en sy vyeboom eet, en elkeen water uit sy eie opgaarput drink, 17totdat ek kom en julle neem na 'n land soos julle land – 'n land met koring en •nuwe wyn, 'n land met brood en wingerde. 18Moenie dat Hiskia julle mislei deur te sê: “Die Here sal ons red!” nie. Het enige van die gode van die nasies ooit sy land gered uit die hand van die koning van Assirië?
19“ ‘Waar was die gode van Hamat en Arpad? Waar was die gode van Sefarwajim? Kon húlle Samaria uit my hand red? 20 Wie was daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die Here dan Jerusalem uit my hand sal red?’ ”
21Hulle het egter stilgebly en hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie, want die bevel van die koning was: “Julle moet hom nie antwoord nie!”
22Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf en herout, het by Hiskia aangekom met geskeurde klere, en aan hom die woorde van die rabsakee meegedeel.

Tans Gekies:

Jesaja 36: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid