Jesaja 17:1-11

Jesaja 17:1-11 AFR20

Profesie oor Damaskus. “Kyk, Damaskus gaan ophou om 'n stad te wees, dit gaan 'n vervalle puinhoop word. Die dorpe by Aroër is verlate – aan veekuddes sal dit behoort. Hulle sal daar gaan lê, en niemand sal hulle opjaag nie. Versterkte stede sal uit Efraim verdwyn, ook die koningskap uit Damaskus. Met wat van Aram oorbly, sal dit wees soos met die luister van die Israeliete.” Dit is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. “ Op daardie dag sal die luister van Jakob vervaag; sy vet aan sy liggaam sal verdwyn. Dit sal wees soos wanneer iemand met die oes graanhalms insamel, en soos wanneer iemand koringare in sy arm bymekaarmaak. Dit sal wees soos wanneer iemand are optel in die vallei van Refaïm: Daar sal by Jakob oesreste oorbly. Soos met die afslaan van olywe sal twee of drie ryp olywe aan die bopunt van 'n tak wees, vier of vyf aan die lote van 'n boom wat dra,” is die uitspraak van die HERE, die God van Israel. Op daardie dag sal die mens opkyk na sy Maker; sy oë sal gerig wees op die Heilige van Israel. Hulle sal nie opkyk na die altare, na die werk van hulle hande nie; en wat hulle vingers gemaak het, daarna sal hulle nie kyk nie – die asjeras en die wierookaltare. Op daardie dag sal Israel se sterk stede wees soos dié wat verlaat is deur die Hetiete en Amoriete, wat hulle verlaat het vanweë die Israeliete. 'n Woesteny sal dit word, omdat jy die God wat jou verlos, vergeet het, die Rots wat jou toevlugsoord is, nie onthou het nie. Daarom lê julle pragtige tuine aan, plant julle die steggies van 'n vreemde god. Die dag wanneer julle plant, laat julle al groei; die oggend wanneer julle saai, laat julle al uitspruit. Die oes sal egter verdwyn in 'n tyd van siekte en ongeneeslike pyn.