Hosea 5:3-9

Hosea 5:3-9 AFR20

“Ek ken Efraim en Israel is vir my nie verborge nie; ja, nou het jy gehoereer, Efraim, Israel het homself verontreinig.” Hulle dade laat hulle nie toe om na hulle God terug te keer nie, want 'n gees van hoerery heers in hulle midde, en hulle ken die HERE nie. Israel se hoogmoed getuig openlik teen hom, en Israel en Efraim sal deur hulle sondeskuld struikel. Ook Juda het saam met hulle gestruikel. Met hulle kleinvee en beeste gaan hulle om die HERE te soek, maar hulle sal Hom nie vind nie – Hy het Hom aan hulle onttrek. Teenoor die HERE was hulle ontrou, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Nou gaan Hy hulle met nuwemaan verteer, saam met hulle landerye. “ Blaas die •ramshoring in Gibea, die trompet in Rama; hef die krygsgeskreeu aan in Bet-Awen! Agter jou is Benjamin! Efraim, jy gaan 'n woesteny word op die dag van straf. Onder die stamme van Israel maak Ek bekend wat betroubaar is.