Hosea 13:4-14

Hosea 13:4-14 AFR20

“ Ek is die HERE jou God – al van Egipteland af. Buiten My het jy geen ander god geken nie, en naas My was daar geen redder nie. Dit is Ek wat jou in die woestyn versorg het, in 'n bitter droë land. Maar toe hulle weiding kry, het hulle versadig geraak; hulle het versadig geraak en hoogmoedig geword – daarom het hulle My vergeet. Ek het vir hulle soos 'n leeu geword, soos 'n luiperd langs die pad hou Ek hulle dop. Ek sal hulle aanval soos 'n beer wat haar kleintjies verloor het. Ek sal hulle borskas oopskeur. Soos 'n leeuwyfie sal ek hulle net daar verslind; die wilde diere sal hulle uitmekaar skeur. Dit het jou vernietig, Israel, dat jy teen My, jou Helper, is. Waar is jou koning dan, dat hy jou kan red in al jou stede? En waar is jou rigters, oor wie jy gesê het, ‘Gee vir my 'n koning en •hoë amptenare’? Ek gee vir jou 'n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my gramskap. “ Die sondeskuld van Efraim is toegebind, sy sonde word veilig bewaar. Die geboortepyne het vir hom aangebreek, maar hy is 'n kind sonder insig. Wanneer die tyd aanbreek, lê hy nie reg in die baarmoeder nie. Moet Ek hulle bevry uit die mag van die •doderyk? Moet Ek hulle van die dood loskoop? Waar is jou pessiektes, Dood? Waar is jou epidemie, Doderyk? Medelye is vir my oë verberg.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Hosea 13:4-14