Hebreërs 9:9-14

Hebreërs 9:9-14 AFR20

Dit versinnebeeld tot op hede hoe gawes en offers gebring is wat nie in staat was om die gewete van die een wat die offer bring, volkome te reinig nie. Dit het net gegaan oor kos en drank, en verskillende reinigingsrituele – bepalings vir die liggaam, wat opgelê is tot op die bestemde tyd van regstelling. •Christus egter het gekom as Hoëpriester van die goeie dinge wat nou verwesenlik is, en Hy het deur 'n uitnemender en meer volmaakte •tabernakel beweeg wat nie deur mensehande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie van hierdie skepping is nie. Hy het ook nie met die bloed van bokramme en bulkalwers nie, maar eens en vir altyd, met sy eie bloed, die heiligdom binnegegaan, en 'n ewige verlossing bewerkstellig. Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van 'n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien?