Die voorste tent was toegerus met die kandelaar, en die tafel met die •vertoonbrode, en is die “Heilige” genoem. En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die •verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond; en bo-op was die gerubs van heerlikheid, wat die versoendeksel oorskadu het. Hieroor kan ons egter nie nou in besonderhede praat nie.
Met hierdie dinge dan so ingerig, gaan die priesters gereeld die voorste tent binne om hulle rituele diens te verrig. Maar by die tweede tent gaan net die hoëpriester in, en dit slegs een keer per jaar, en nie sonder bloed wat hy vir homself offer, en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het nie. Daarmee dui die Heilige Gees aan dat die weg na die heiligdom nog nie oopgestaan het solank die voorste tent nog bestaan het nie. Dit versinnebeeld tot op hede hoe gawes en offers gebring is wat nie in staat was om die gewete van die een wat die offer bring, volkome te reinig nie. Dit het net gegaan oor kos en drank, en verskillende reinigingsrituele – bepalings vir die liggaam, wat opgelê is tot op die bestemde tyd van regstelling.
•Christus egter het gekom as Hoëpriester van die goeie dinge wat nou verwesenlik is, en Hy het deur 'n uitnemender en meer volmaakte •tabernakel beweeg wat nie deur mensehande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie van hierdie skepping is nie. Hy het ook nie met die bloed van bokramme en bulkalwers nie, maar eens en vir altyd, met sy eie bloed, die heiligdom binnegegaan, en 'n ewige verlossing bewerkstellig. Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van 'n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien?