Hebreërs 5:1-9

Hebreërs 5:1-9 AFR20

Elke hoëpriester wat uit mense geneem word, word immers ook ter wille van mense aangestel vir die offerdiens voor God, sodat hy ter wille van die sondes geskenke en offers kan bring. Hy kan deernis hê met dié wat in onkunde dwaal, aangesien hy self ook aan swakheid blootgestel is. Juis daarom moet hy, net soos vir die volk, ook vir homself offers vir sy sondes bring. Niemand eien die eer vir homself toe nie, maar hy word, net soos Aäron, deur God geroep. So ook het •Christus nie Homself vereer om Hoëpriester te word nie; die Een wat Hom vereer het, was God, wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” So sê Hy ook op 'n ander plek: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God. Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. En nadat Hy tot volmaaktheid gebring is, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword