HEBREËRS 5:1-9

HEBREËRS 5:1-9 NLV

’n Hoofpriester is iemand wat uit die mense geneem en vir die mense aangewys word om priesterdiens voor God te verrig. Hy lê dié mense se gawes voor God en bring ook offers vir hulle sondes. Hy kan empatie hê met die onkundiges en dwalendes omdat hy self aan swakheid onderhewig is. Hy is daarom verplig om nie net vir die volk nie, maar ook vir sy eie sondes offers te bring. En niemand kan ’n hoofpriester word bloot omdat hy graag daardie ereposisie wil hê nie. Hy moet deur God daartoe geroep word – net soos in die geval van Aäron. Net so het Christus ook nie vir Homself die waardigheid van hoofpriester toegeëien nie. Nee, Hy is aangewys deur die Een wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun. Vandag het Ek jou Vader geword.” En op ’n ander plek het God vir Hom gesê: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Terwyl Jesus hier op aarde was, het Hy hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit, want God sou Hom van die dood kon red. God het Hom verhoor deurdat Hy die angs vir die dood van Hom weggeneem het. Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. Op hierdie manier het Hy volmaaktheid bereik sodat Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword het.