Hebreërs 2:8-18

Hebreërs 2:8-18 AFR20

U het alles onder sy voete gestel. ” Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir 'n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar. Dit was immers gepas dat Hy, vir en deur wie alles bestaan, ten einde baie kinders tot heerlikheid te lei, die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid sou bring. Want sowel Hy wat heilig maak as hulle wat heilig gemaak word, is almal uit Een. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie, wanneer Hy sê: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig, in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” En ook: “Ek sal my vertroue steeds in Hom stel.” En ook: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry. Want Hy is vir seker nie oor engele besorg nie; inteendeel, Hy is oor Abraham se nageslag besorg. Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word, te help.

Video for Hebreërs 2:8-18

Gratis leesplanne en oordenkings oor Hebreërs 2:8-18