Hebreërs 11:1-6

Hebreërs 11:1-6 AFR20

Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is. Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is. Gevolglik het dit wat gesien word, nie uit die sigbare ontstaan nie. Deur geloof het Abel 'n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf. Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.