Hebreërs 10:19-25

Hebreërs 10:19-25 AFR20

Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, langs 'n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, en ons het 'n groot Priester oor die huis van God. Laat ons daarom ingaan met 'n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van 'n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water. Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!