Hebreërs 1:5-14

Hebreërs 1:5-14 AFR20

Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” En ook: “Ek sal vir Hom 'n Vader wees, en Hy sal vir My 'n Seun wees.” Maar wanneer Hy die •Eersgeborene weer in die wêreld inlei, sê Hy: “En laat al die engele van God Hom aanbid.” Oor die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde, en sy dienaars vuurvlamme.” Maar vir die Seun sê Hy: “U troon, o God, is vir ewig en ewig, en die septer van geregtigheid is die septer van u koninkryk! U het •geregtigheid lief, en U haat wetteloosheid; daarom, o God, het u God U gesalf met olie van vreugde, meer as u vriende.” En: “U het aan die begin, o Here, die aarde se fondamente gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly bestaan. Soos 'n kledingstuk sal hulle almal verslyt, en soos 'n mantel sal U hulle oprol; soos 'n kledingstuk sal hulle vervang word, maar U bly dieselfde, en u jare sal nie tot 'n einde kom nie.” Aan wie van die engele het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.” Is hulle nie almal dienende geeste, wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan nie?