Haggai 2:10-19

Haggai 2:10-19 AFR20

Op die vier-en-twintigste dag van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die HERE gekom tot die profeet Haggai: “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Vra vir die priesters 'n beslissing hieroor: As iemand heilige vleis in die vou van sy kleed dra en hy raak met die vou van sy kleed aan brood of gekookte kos, of wyn of olyfolie, of enige kos, word dit dan heilig?’ ” Die priesters se antwoord was: “Nee.” Haggai vra toe: “As iemand wat •onrein is deur aanraking met 'n lyk aan enige van hierdie dinge raak, is dit dan onrein?” Die priesters het geantwoord: “Dit sal onrein wees.” Hierop sê Haggai toe: “Dit is hoe hierdie volk is, ja, dit is hoe hierdie nasie voor My is, is die uitspraak van die HERE, en ook al die werk van hulle hande: Alles wat hulle daar offer, is onrein.” “Daarom dan, neem voortaan ter harte hoe dit met julle gegaan het voordat klip op klip in die •tempel van die HERE gelê is: As iemand na 'n koringmied van twintig mate gegaan het, was daar maar net tien! As hy na die parskuip gegaan het om vyftig mate wyn uit die kuip te skep, was daar maar net twintig. Ek het julle getref met skimmel en witroes en hael, ja, al die werk van julle hande, maar julle wou nie na My terugkeer nie, is die uitspraak van die HERE. “ Neem ter harte hoe dit van vandag af gaan wees, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondament van die tempel van die HERE gelê is; ja, neem dit ter harte. Is daar nog saad in die stoorkamer? Die wingerd, die vyebome, granate en olyfbome het nie eers gedra nie! Van vandag af sal Ek julle seën.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Haggai 2:10-19

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid