God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde. Ontsag vir julle en vrees vir julle sal al die wilde diere van die aarde, al die voëls van die hemel, alles wat op die grond rondkruip, en al die visse van die see, vervul. In julle hande is hulle oorgegee. Alles wat beweeg, wat leef – vir julle sal dit as voedsel dien. Soos die groen gewasse, gee Ek dit alles vir julle. Slegs vleis met sy lewe in, met sy bloed in, mag julle nie eet nie. Maar julle bloed, naamlik julle lewens, sal Ek eis: Van elke dier sal Ek dit eis; van die hand van die mens, die hand van een mens teenoor die ander, sal Ek die lewe van 'n mens eis.
“ Hy wat die bloed van 'n mens vergiet,
deur die mens sal sy bloed vergiet word;
want na die beeld van God
het Hy die mens gemaak.
“Julle dan, wees vrugbaar en vermeerder – wemel op die aarde en vermeerder daarop.”
Toe sê God vir Noag en sy seuns by hom: “ En Ek, kyk, Ek sluit my verbond met julle en julle nageslag ná julle, en met alle lewende wesens wat by julle is – voëls, mak diere, al die wilde diere van die aarde by julle – met alles wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere op die aarde. Ek sluit my verbond met julle: Nooit weer sal alle vlees deur die waters van die vloed uitgeroei word nie; ja, daar sal nie weer 'n vloed wees om die aarde te verdelg nie.”
God het gesê: “Dit is die verbondsteken wat Ek plaas tussen My en julle en al die lewende wesens by julle, vir toekomende geslagte: My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke laat saampak oor die aarde, en die boog verskyn in die wolke, sal Ek my verbond onthou wat daar is tussen My en julle en elke lewende wese, ja, alle vlees. Die waters sal nie weer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie. Wanneer die boog in die wolke is, sal Ek dit sien, om so herinner te word aan die ewigdurende verbond tussen God en alle lewende wesens, alle vlees wat op die aarde is.”
God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek gesluit het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.”
Die seuns van Noag wat uit die ark gegaan het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die vader van Kanaän.