Genesis 7:1-24

Genesis 7:1-24 AFR20

Die HERE het toe vir Noag gesê: “Gaan jy en jou hele gesin in die ark in; want in hierdie geslag het Ek net jou voor My regverdig bevind. Van al die rein diere moet jy vir jou sewe plus sewe neem – telkens 'n manlike een en sy maat; maar van die diere wat nie rein is nie, net twee – 'n manlike een en sy maat; ook van die voëls van die hemel sewe plus sewe, manlik en vroulik, om 'n nageslag lewend te hou oor die hele aarde. Want nog net sewe dae, dan gaan Ek dit laat reën oor die aarde veertig dae en veertig nagte lank. Ek sal alles wat bestaan, wat Ek gemaak het, van die aardbodem af uitwis.” Noag het toe gedoen net soos wat die HERE hom beveel het. Noag was seshonderd jaar oud toe die vloed, die waters, oor die aarde gekom het. Maar Noag, sy seuns, sy vrou en sy skoondogters saam met hom, het die ark binnegegaan voor die waters van die vloed. Van die rein diere en die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en alles wat op die grond kruip, het twee-twee die ark binnegegaan na Noag toe, manlik en vroulik, soos God Noag beveel het. Ná die sewe dae het die waters van die vloed oor die aarde gekom. In die seshonderdste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op daardie dag, het al die fonteine van die groot •oerwater oopgebreek, en die vensters van die hemel is oopgemaak. Daar was stortreën op die aarde, veertig dae en veertig nagte lank. Op daardie selfde dag het Noag, Noag se seuns Sem, Gam en Jafet, en Noag se vrou en sy drie seuns se vroue saam met hulle, die ark binnegegaan, hulle en al die soorte wilde en al die soorte mak diere, al die soorte kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg, en al die soorte voëls – al die voëls, al die gevleueldes. Hulle het na Noag toe die ark binnegegaan, twee-twee van alle diere waarin die asem van lewe was. Dié wat ingegaan het, as manlik en vroulik uit alle diere het hulle ingegaan, soos God hom beveel het. Die HERE het die ingang agter hom gesluit. Die vloed was veertig dae lank oor die aarde. Die water het meer geword, en dit het die ark opgelig, sodat dit hoog bo die grond was. Die water het die oorhand gekry en geweldig vermeerder oor die aarde. Die ark het op die oppervlakte van die water rondgedryf. Die water het heeltemal die oorhand gekry oor die aarde. Al die hoë berge onder die ganse hemel is bedek. Vyftien el bo hulle het die water gestyg, sodat die berge bedek was. Alle diere wat rondbeweeg op die aarde het omgekom – voëls, mak diere, wilde diere, al die diere wat op die aarde wemel, en ook al die mense. Alles wat lewensasem in hulle neuse gehad het, alles wat op droë grond was, het gesterf. Hy het alles wat bestaan, wat op die aardbodem was, uitgewis, mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is op die aarde uitgewis. Net Noag en dié wat saam met hom in die ark was, het oorgebly. Die water het honderd-en-vyftig dae lank die oorhand oor die aarde gehad.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid