Genesis 49:1-28

Genesis 49:1-28 AFR20

Jakob het sy seuns laat roep en gesê: “Kom bymekaar, sodat ek julle kan inlig oor wat met julle gaan gebeur in die toekoms. “Kom bymekaar en luister, seuns van Jakob, luister na Israel, julle vader. Ruben, jy is my eersgeborene, my sterkte, die eersteling van my manlike krag – uitsonderlik in verhewenheid, uitsonderlik in krag. Onbeheerbaar soos water, sal jy nie voorrang geniet nie; want jy het op jou vader se beddens geklim, en dit toe verontreinig. Hy het op my slaapbank geklim. “ Simeon en Levi is broers – werktuie van geweld is hulle besnydenismesse. In hulle kring moet ek self nie kom nie; met hulle vergadering wil ek my nie vereenselwig nie. Want in hulle toorn het hulle mense vermoor, uit moedswilligheid het hulle beeste se hakskeensenings afgekap. Vervloek is hulle toorn, want dit is fel, en hulle gramskap, want dit is meedoënloos. Ek sal hulle uitmekaarjaag in Jakob, hulle verstrooi in Israel. “ Juda, jy, jou broers sal jou prys! Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; die seuns van jou vader sal diep voor jou buig. 'n Leeuwelpie is Juda; van die prooi, my seun, het jy opgestaan. Hy sak af, gaan lê soos 'n leeu, soos 'n leeuwyfie. Wie sal hom opjaag? Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is. Aan 'n wingerdstok maak hy sy donkiehings vas, aan 'n edeldruif die vul van sy donkiemerrie. Hy was sy bokleed in wyn, en sy klere in die sap van druiwe. Die oë is donkerder as wyn, die tande witter as melk. “ Sebulon – aan die strand van die seë sal hy woon; ja, hy is by die strand waar die skepe is, met sy verste gebied langs Sidon. “ Issaskar is 'n bonkige donkie wat gaan lê tussen die saalsakke. Hy het gesien hoe goed die rusplek is, en hoe lieflik die land. Hy het sy skouer laat sak vir die las, hy het 'n dwangarbeider geword. “ Dan handhaaf die reg van sy volk as een van die stamme van Israel. Dan is 'n slang op die pad, 'n horingslang op die gebaande weg, wat die hakskene van 'n perd pik, en sy ruiter val agteroor. “ Op u verlossing wag ek, HERE. “ Gad – 'n bende val hom aan, maar hy val die hakskeen aan. “ Uit Aser kom dit: Ryk is sy kos, hy self gee lekkernye geskik vir 'n koning. “ Naftali is 'n vrygelate rooitakbokooi wat mooi lammers gee. “ 'n Vrugbare jong wynstok is Josef, 'n vrugbare jong wynstok langs 'n fontein; die ranke hang oor die putmuur. Hulle het hom uitgetart en op hom geskiet; die boogskutters het hom verwoed teengestaan. Maar sy boog het bestendig gebly, en sy voorarms was behendig, vanweë die hande van die Magtige van Jakob, vanweë die roem van die Herder, die Rots van Israel, vanweë die God van jou vader, sodat Hy jou sou help, ja, God, die Almagtige, sodat Hy jou sou seën met seëninge uit die hemel daarbo, seëninge van die •oerwater wat daar onder lê, seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge van jou Vader oortref die seëninge van die ewige berge, die begeerlikhede van die oeroue heuwels. Mag dit rus op die kop van Josef, op die hoof van die prins onder sy broers. “Benjamin is 'n wolf wat verskeur. In die oggend verslind hy geroofde goed, en teen die aand verdeel hy buit.” Hulle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader vir hulle gesê het toe hy hulle geseën het. Hy het hulle geseën, elkeen met sy gepaste seën.

Video vir Genesis 49:1-28