Genesis 38:6-19

Genesis 38:6-19 AFR20

Juda het vir Er, sy eersgeborene, 'n vrou geneem met die naam Tamar. Maar Er, Juda se eersgeborene, was sleg in die oë van die HERE, en die HERE het hom laat sterf. Toe sê Juda vir Onan: “Gaan in by jou broer se vrou en doen jou plig as swaer teenoor haar, en vestig vir jou broer 'n nageslag!” Maar Onan het geweet dat die nageslag nie sy eie sou wees nie. Daarom het hy, wanneer hy by sy broer se vrou ingegaan het, sy saad op die grond gestort, om nie vir sy broer 'n nageslag te gee nie. Wat hy gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE, en Hy het ook hom laat sterf. Juda sê toe vir Tamar, sy skoondogter: “Gaan bly as 'n weduwee in die huis van jou pa totdat my seun Sela groot is.” Want, het hy gedink, anders sterf hy ook soos sy broers. Tamar het toe in die huis van haar vader gaan bly. Intussen het baie dae verloop. Juda se vrou, die dogter van Sua, het gesterf. Nadat Juda klaar gerou het, het hy en sy vriend Gira, uit Adullam, opgegaan na die skeerders van sy kleinvee in Timna. Daar is aan Tamar berig gebring: “Kyk, jou skoonpa gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer.” Sy trek toe die klere van haar weduweeskap uit, bedek haar gesig met 'n sluier en vermom haar. Sy het by die ingang van Enajim, wat langs die pad na Timna is, gaan sit; want sy het gesien dat Sela grootgeword het, maar sy is nie vir hom as vrou gegee nie. Toe Juda haar sien, het hy haar as 'n prostituut beskou, want sy het haar gesig bedek. Hy het op die pad na haar afgedraai en gesê: “Kom, ek wil by jou ingaan!” Hy het immers nie besef dat dit sy skoondogter was nie. Sy vra toe: “Wat sal jy my gee as jy by my ingaan?” Sy antwoord was: “Ek sal self vir jou 'n boklam uit my kleinvee stuur.” Maar sy het gesê: “As jy vir my 'n pand gee totdat jy dit stuur, ja.” Hy vra toe: “Wat is die pand wat ek vir jou moet gee?” Sy het geantwoord: “Jou rolseël en koord en die staf in jou hand.” Hy het dit vir haar gegee en by haar ingegaan, en sy het van hom swanger geword. Sy het opgestaan en weggegaan. Sy het haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid